Vyf voornemens om aan te werk

2022-12-31
Hebreërs 12:1 NLV

Susan Alexander Yates stel vyf voornemens voor om aan te werk: ‘1) Reik uit na iemand wat Christus nie ken nie. God beveel ons om sout en lig te wees (sien Matteus 5:13-16), maar dit sal nie gebeur as ons al ons tyd saam met gelowiges deurbring nie.

2) Wees dankbaar. Ek het altyd wakker geword en gedink aan al die dinge wat ek moet doen en die mense wat my nodig het. Ek het depressief geraak nog voor ek uit die bed geklim het! Dus het ek op God se karaktereienskappe begin mediteer en begin dink hoe wonderbaarlik God is. My perspektief het verander.

3) Bestee kwaliteittyd saam met jou eggenoot. Ek het voorheen ‘n framboosbos gehad. Aan die begin het ek dit versorg en dit het vrugbare oeste opgelewer. Toe het ek besig geraak en onkruid het die bos oorgeneem. Dit kan ook met ‘n huwelik gebeur. Ons dink dat ons tyd saam sal bestee wanneer die lewe rustiger raak. Die probleem is dat dit nooit gebeur nie. Moenie toelaat dat onkruid julle huwelik verwurg nie.

4) Sê vir iets ‘nee.’ Volwassenheid beteken dat jy iets wat jy graag wil doen uitstel om op iets belangrikers te fokus. Wat sal oor tien jaar die meeste beteken – dat jy jou kind vir nog ‘n aktiwiteit ingeskryf het, of dat jy ‘nee’ gesê het en saam as familie in die aande geëet het?

5) Jaag Christus met nuwe krag na. Dawid het gebid: ‘Gee my tog weer die vreugde van u redding…’ (Psalm 51:14). Verander jou roetine. Kies ‘n nuwe onderwerp vir Bybelstudie. Begin ‘n dagboek hou. As jy steeds sonder energie voel, vra God om vir jou die rede daaragter te wys.’

‘…Kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag… Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê’ (Hebreërs 12:1 NLV).

Sielskos: Jes 43:9-21; Joh 21:15-25; Ps 139:13-24; Spr 31:28-31