Werk aan jou selfbeeld

2020-03-26
Psalm 139:16 NLV

Iyanla Vanzant het gesê: ‘Alles wat met jou gebeur is ‘n refleksie van wat jy van jouself glo. Ons kan nie meer as wat ons dink ons werd is, na onsself toe aantrek nie.’ Dit beteken dat die manier wat ons onsself sien, die tipe verhoudings wat ons aanknoop bepaal. Baie van ons het ‘n lae selfbeeld. Ons dink dat almal anders belangriker as ons is en dat hulle behoeftes belangriker as ons behoeftes is. Ons vergelyk ons met ander en laat hulle toe om te bepaal wie ons is; en ons word afhanklik van hulle goedkeuring om ons identiteit te onderhou. Dis egter ‘n klap in die gesig van God om na ander te kyk en te sê: ‘Ek wens ek was meer soos hulle.’ God het jou vir sy eie doel gemaak, sodat jy ‘n unieke aspek van sy glorie kan reflekteer. As gelowiges in Christus, het ons ‘n nuwe identiteit as kinders van God ontvang. Ons is nie geskep om in afhanklikheid van enige ander persoon te lewe nie. God is eerder besig om ons na die beeld van sy Seun te omskep en ons heel te maak (sien 2 Korintiërs 3:18). In Hom hoef ons nie bang te wees vir wie ons regtig is nie. Dis tyd om ‘n ware opinie van jouself te vorm, gebaseer op die waarheid dat God jou presies, ingewikkeld, wonderbaarlik en uniek geskep het – ‘n skepping sonder gelyke. Die Psalmdigter het geskryf: ‘Nog voordat ek mens geword het, het U my al beplan… U het besluit wat met my sou gebeur. God, dit troos my om te weet dat U alles in u hand hou. Die gedagte daaraan is net te groot om te verstaan. As ek dit probeer verstaan, besef ek my kop is te klein…’ (Psalm 139:16-18 DB).

Sielskos: Job 24-28; Matt 25:31-46; Ps 38:13-22; Spr 8:24-26