Weet wanneer om stil te bly
2024-10-23Prediker 3:7 NLV
Calvin Coolidge, die dertigste president van Amerika, was bekend daarvoor dat hy ‘n inkennige man was wat baie min gepraat het. Een dag toe ‘n verslaggewer probeer het om met hom ‘n onderhoud te voer, het die gesprek as volg verloop: Verslaggewer: ‘Wil jy iets oor die oorlogbedreiging in Europa sê?’ Coolidge: ‘Nee.’ Verslaggewer: ‘Het jy enigiets oor die staking in die klerefabrieke te sê?’ Coolidge: ‘Nee.’ Verslaggewer: ‘Het jy iets oor die Volkebond te sê?’ Coolidge: ‘Nee.’ Soos die verslaggewer die kamer verlaat het, het Coolidge hom onverwags teruggeroep en met ‘n glimlag gesê: ‘Maar moet my nie aanhaal nie!’
Die Bybel sê: ‘Daar is ‘n vaste tyd vir alles, elke ding onder die son het sy tyd… ‘n Tyd om stil te bly en ‘n tyd om te praat’ (verse 1, 7 NLV). Moet nooit toelaat dat jy onder druk geplaas word om iets te sê wat jy nie wil sê nie, of ingetrek word wanneer jy nie lus is om te praat nie. Stilte is nie ‘n gebrek aan kommunikasie nie; dis ‘n vorm van kommunikasie wat baie effektief kan wees!
Spreuke 29:11 sê: ‘Wanneer ‘n dwaas kwaad is, dan sê hy alles wat hy dink, ‘n wyse mens bly kalm’ (ABA). Een ding is vir seker: dit wat jy vandag nie sê nie, hoef jy nie môre te verduidelik of verskoning voor te vra nie. As jy geneig is om te praat voor jy dink, of wanneer jy niks opbouend het om by te dra nie, moet jy die situasie versigtig opweeg en God vir wysheid vra voor jy besluit of jy moet praat of eerder stil moet bly. Onthou: ‘Selfs ‘n dwaas tree reg op wanneer hy sy praatlus bedwing. As hy geheime kan hou, is hy slim’ (Spreuke 17:28 DB).
Sielskos: Jes 1-3; Joh 5:16-30; Ps 15; Spr 27:10-12