Wees wys en innemend
2017-08-25Spreuke 11:30 NLV
Die Bybel sê, ‘Hou op om die wêreld en die dinge van die wêreld lief te hê. As iemand die wêreld liefhet, is hy beslis ook nie lief vir die Vader nie’ (1 Johannes 2:15 NLV). Sommige van ons se optrede wys egter dat ons dink dat wanneer ons God meer lief het, beteken dit dat ons diegene rondom ons minder moet liefhê. Ons mag dalk ongemaklik rondom hulle voel, of nie weet hoe om met hulle te kommunikeer nie, of optree asof ons geestelik verhewe bo hulle is. Jy is egter geroep om vreugde aan ander mense te bring, nie om hulle te veroordeel nie. God het alreeds ‘n plek en tyd vir die oordeelsdag bevestig en jy gaan nie op die troon wees wanneer dit aanbreek nie! Jesus word ‘die Goeie Herder’ (Johannes 10:11) genoem, en die Griekse woord vir ‘goeie’ beteken letterlik ‘innemend, bekoorlik, aantreklik’. Christus was so innemend dat mense outomaties tot hom aangetrokke was. Is hulle tot jou aangetrokke? Jesus het gesê dat ons geroep is om die sout en die lig van die aarde te wees. Sout laat kos beter proe en lig wys vir mense die regte pad om te loop. Omdat hulle wys en innemend was, het Jesaja die profeet inspraak in die lewe van konings gehad, het die drie Hebreeuse kinders die Babiloniese politiek verander en het Josef Egipte van hongersnood gered. Ja, Satan is aan die werk om Christus uit Kersfees, gebed uit skole en God uit die regering te haal. Hy sal egter nie wen nie, en hy weet dit (sien Openbaring 12:12). Sy strategie is egter om ons te laat glo dat hy kan wen. Werk dus vandag daaraan om wys en innemend te wees sodat jy mense na Christus toe kan lei.
Sielskos: 2 Kron 29-31; Mark 7:24-37; Ps 119:145-160; Spr 22:14-16