Wees versigtig wie jy nader (1)
2020-02-29Prediker 4:10 NLV
God het nooit vir ons bedoel om alleen te wees nie. Ons almal het van tyd tot tyd hulp en bemoediging nodig, maar wees versigtig wie jy daarvoor nader. 1) Moenie na iemand toe gaan wat nie jou probleem kan hanteer nie. Jy kan dalk tydelike verligting kry wanneer jy jou situasie met hulle deel, maar wat as hulle nie volwasse genoeg is om dit te hanteer nie? Jesus het gesê: ‘Maar elkeen wat een van hierdie kleinstes wat in My glo, tot ‘n val bring – vir hom sal dit beter wees om met ‘n meulsteen om sy nek in die see te verdrink’ (Matteus 18:6 NLV). 2) Dis in orde om na ‘n vriend te draai, solank as wat hulle geestelik volwasse is. Die Bybel sê: ‘Op ‘n vriend se lojaliteit kan jy altyd reken. Jou broer is gebore om jou te help wanneer daar probleme is’ (Spreuke 17:17 NLV). Petrus skryf: ‘…Sulke liefde maak baie sondes toe’ (1 Petrus 4:8 NLV). Iemand wat waarlik vir jou lief is, sal vir jou bid en saam met jou stap totdat jy oorwinning behaal. Wanneer jy op die verkeerde pad is, sal hulle nie vir jou verskonings maak nie – hulle sal jou aanspreeklik hou. 3) Indien moontlik, draai na ‘n geestelike vader toe. Paulus sê: ‘Want selfs al sou julle tienduised ander leermeesters hê om julle omtrent Christus te onderrig, het julle net een geestelike vader…’ (1 Korintiërs 4:15 NLV). Dink aan ‘n goeie vader se karaktereienskappe. Hy korrigeer, maar veroordeel nooit nie. Hy sal nie opgee op jou nie. Sy evaluasie is gebaseer op jou beste kwaliteite, nie jou slegstes nie. In plaas van om negatief op jou mislukkings te reageer, herken hy jou potensiaal en hou aan werk aan jou. Vra God dus vandag vir ‘n geestelike vader en bly in gereelde kontak met hom.
Sielskos: Gen 17-19; Matt 19:1-14; Ps 66:1-12; Spr 6:20-22