Wees veerkragtig (2)

2020-09-25
Romeine 8:37 NLV

As jy tot die gevolgtrekking gekom het dat jou beste dae verby is – is hulle. As jy dink dat hulle nog voorlê – doen hulle. Toe Leonard sy werk by ‘n Fortune 500 maatskappy verloor het, was hy vol vrees en depressief. Hy het egter tot die besef gekom dat indien hy tou opgooi, hy ‘n verkeerde voorbeeld vir sy seun sou stel. Leonard was vasbeslote om sy seun te wys dat hy weer sou opstaan. Hy het sy vriende begin bel om hulle te vra of hulle van enige werk weet. Verskeie maande en baie onderhoude later, het hy vier werksaanbiedinge gehad en werk hy nou vir ‘n maatskappy wat sy talente waardeer. Wanneer boere in Idaho aartappels geoes het, sou hulle hulle volgens grootte sorteer: klein, medium en groot. Tog het ‘n boer wat nie hierdie metode gebruik het nie, meer geld as al die res gemaak. Uiteindelik het ‘n buurman hom gevra: ‘Wat is jou geheim?’ ‘Maklik,’ het die boer geantwoord. ‘Ek laai my wa en vat die slegste pad dorp toe. Gedurende die reis skud die klein aartappels ondertoe, die medium aartappels bly in die middel en die groot aartappels rys na die bokant toe.’ Dieselfde is waar van mense. Op die stamperige pad van die lewe, rys die groot aartappels bo almal uit. Jon Gordon sê: ‘Nieteenstaande die teenspoed wat jy het, moet jou doelwit groter as jou uitdagings wees. In plaas daarvan om op jou probleme te fokus, fokus op jou doelwit. In plaas daarvan om jouself as ‘n slagoffer te sien, sien jouself as ‘n held. Helde en slagoffers word beide platgeslaan, maar helde staan weer op en bewapen met geloof, skep hulle ‘n positiewe toekoms.’

Sielskos: Hoogl 1-4; Luk 23:32-38; Ps 13; Spr 21:22-27