Wees teenwoordig in die oomblik
2024-10-16Psalm 118:24 NLV
Een skrywer sê: ‘Een van die strategieë wat ek gebruik, is om genoeg tyd beskikbaar te stel sodat ek nie sit en dink aan wat ek volgende moet doen nie. Ek vind dit die beste om te wag totdat ek genoeg tyd het om saam met iemand te wees, sodat die persoon nie gefrustreerd met my verdeelde aandag en besige skedule raak nie.’
As jy aanhou om nie tyd vir jou geliefdes te maak nie, kan daar dalk ‘n dag aanbreek waarop hulle nie tyd vir jou gaan hê nie. Vra jouself af: ‘Is hierdie persoon meer werd vir my as die plan, projek, probleem of druk wat ek moet hanteer?’ Leer om die oomblik te geniet en fokus op die persoon by wie jy is. Vra oop vrae wat hulle aanmoedig om met meer as ‘n ja of nee te antwoord. Luister aandagtig en vra addisionele vrae. Dit help mense om te voel dat jy by hulle betrokke is en vir hul antwoorde omgee.
Ja, jou gedagtes kan dalk vir ‘n paar sekondes na die toekoms dwaal, maar druk dit onmiddellik terug na die hede toe deur daardie bekommernisse te verwerp. Jy kan later daaraan aandag gee. Konsentreer op die hede. Daar is groot genot daarin te vinde wanneer jy gewoond raak om dit te doen. ‘n Gedig lui: ‘Ek wil doelbewus lewe… en nie, wanneer ek sterf, ontdek dat ek nie geleef het nie.’
Om seker te maak dat dit nie met jou gebeur nie, luister na Salomo se woorde: ‘Mense moet eet en drink en onder al sy moeite nog die goeie kan geniet. Dit is geskenke van God’ (Prediker 3:13 NLV). As jy minder moet doen om die mense vir wie jy lief is meer te geniet, doen dit dan; jy sal nooit daaroor spyt wees nie!
Sielskos: Eks 28-29; Joh 4:1-12; Ps 89:38-52; Spr 26:23-26