Wees ‘n Vader vir jou kinders

2022-06-19
Josua 24:15 NLV

Die geliefde radiokommentator, Paul Harvey, het geskryf: ‘In ‘n tyd waar dit populêr is om jou seun se vriend te wees, gaan ek ‘n Vader bly. As daar ‘n afstand tussen my seuns, my dogters en myself ontstaan, sal ek hard werk om hulle te verstaan, maar ek gaan ook hard werk sodat hulle my verstaan. Wanneer hulle my vertel hoe dinge nou staan, sal ek luister, selfs al hou ek meer van hoe dinge was. As dinge soos gebed, Bybelstudie, lofprysing en geloof in God ooit deur my kinders as outyds of onnodig gesien word, sal ek op God se hulp vertrou om genoeg geloof te hê om vir hulle te bid.

Ek beloof saam met die patriarg Job om ekstra offers vir hulle te bring. Met liefde in ons huis, sal ek hulle vrae oor die feite van die lewe beantwoord, maar ek weier om vir naaktheid en onkuisheid te knipoog. As eksperimente met dwelms of dagga ooit ‘n probleem word, sal ek dit teenstaan in elke gebed en versoek. Ek wil hê dat my kinders moet weet dat ek foute maak; dat ek dwaas en trots en dikwels teenstrydig is. Ek sal dit egter nie as ‘n verskoning vir my skynheiligheid duld nie. Ek sal hulle vra om my te help om te verander en om van my te verwag om hulle te help verander.

Ander mense mag dalk na die jonger geslag kyk vir die wysheid om te besluit wat vir toekomstige generasies behoue sal bly en wat van die verlede weggegooi kan word. Ander mense mag dalk toelaat dat die kinders die kos, die musiek en die geldsake van die huisgesin bepaal, maar ek gaan ‘n Vader bly.’

Sielskos: Est 4:9-5:3; Heb 4:7-16