Wees ‘n gewer (2)

2024-10-19
2 Korintiërs 9:7 NLV

Paulus skryf: ‘Elkeen moet gee soos hy in sy hart besluit het, nie uit spyt of dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.’ Die gee wat God beloon, is ‘n doelgerigte gee wat met ‘n vrolike gesindheid gedoen word. Hier is drie maniere om dit reg te kry:

1) Stel ander mense bo jouself. Alle dinge in hierdie wêreld, insluitend roem en rykdom, is tydelik. Individue maak saak. Jou werk, stokperdjies en ander belangstellings sterf saam met jou. Mense hou aan lewe. Die ware maat van sukses is nie in die aantal mense wat jou gehelp het nie, maar die aantal mense wat jy kon help (sien Galasiërs 5:13 NLV).

2) Moenie dat goed jou besit nie. Niemand moet ooit ‘n slaaf van hulle besittings word nie. Niemand moet dit hul lewenstaak maak om nog goed te besit, net om meer te hê nie. As jy in beheer van jou hart wil wees, moet jy nie toelaat dat besittings beheer van jou neem nie. Besit jy jou besittings, of besit jou besittings jou? Gewers gebruik dit wat hulle besit as ‘n hulpbron om hierdie wêreld ‘n beter plek te maak om in te lewe. Hulle doen dit ongeag van hoeveel of hoe min hulle het (sien Matteus 6:21).

3) Definieer sukses as om te saai, nie as om te oes nie. Robert Louis Stevenson het gesê: ‘Ek beskou die sukses van my dag op grond van die saad wat ek saai, nie die oes wat ek maai nie.’ Ons moet nie net ons dae nie, maar ons hele lewe so beskou (sien 2 Korintiërs 9:6-10). As jy met die bedoeling lewe om die lewens van ander te verryk, sal jou lewe vol, nie leeg nie, wees.

Sielskos: Eks 33-35; Joh 4:27-38; Ps 32; Spr 27:1-3