Wees ‘n gewer (1)

2024-10-18
Lukas 6:38 NLV

As jy ‘n gewer wil word, moet jy aan jouself as ‘n rivier, eerder as ‘n reservoir, dink. ‘n Reservoir neem konstant water in, maar net om homself vol te maak. In teenstelling vloei ‘n rivier. Die water wat dit ontvang, gee dit weer weg. Let op wat Jesus oor gee gesê het: ‘As julle gee, sal julle ontvang. Julle gawe sal na julle terugkom in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol. Met watter maat julle ook al meet – klein of groot – dit sal gebruik word om te meet wat julle sal terugontvang’ (vers 38 NLV).

Wanneer jy jou tyd, kennis en hulpbronne gee sonder om iets terug te verwag, doen jy wat Jesus beveel het. Hier is ‘n interessante waarheid: Wanneer jy meer op die behoeftes en begeertes van ander mense fokus, word daar aan jou behoeftes en begeertes voldoen. As jy egter kies om dit wat jy het op te gaar eerder as te gee, word jy die middelpunt van jou eie eensame heelal.

Deur God se goedheid te onthou, neem jou dankbaarheid toe (sien Psalm 103:1-5). Dankbaarheid lei dan weer tot gee. Ondankbare mense is nie gewers nie. Hulle dink selde aan ander mense; hulle dink net aan hulleself. Hulle dae behels om na ander te soek om hulle by te staan, vir hulle te gee en op hulle te wag. Wanneer ander dan nie aan daardie verwagtinge voldoen nie, wonder hulle hoekom. Hulle selfsug weerhou hulle daarvan om te saai en hulle ondankbaarheid laat hulle wonder hoekom hulle nie oes nie.

Op watter manier kan jy dankbaarheid betoon? Deur ‘n gedeelte van die seën wat God in jou lewe uitgegiet het te neem en dit in ander mense se lewens uit te giet. Met ander woorde, wees ‘n gewer.

Sielskos: Eks 30-32; Joh 4:13-26; Ps 100; Spr 26:27-28