Wees ‘n dissipel van Jesus

2024-04-25
Handelinge 11:26 AFR20

Het jy geweet dat die woord ‘dissipel’ 269 keer in die Nuwe Testament voorkom, terwyl die woord ‘Christen’ net drie keer genoem word? Die woord ‘Christen’ is die eerste keer gebruik om te beskryf wie hulle was – dissipels van Jesus Christus!

Dallas Willard gebruik die illustrasie van die outomobiel: ‘Die dissipel van Jesus is nie die luukse of swaardiensmodel van die Christen – stewig opgestop, blink, vaartbelyn en bemagtig vir die vinnige baan op die reguit en smal pad, nie. Hy of sy staan op die bladsye van die Nuwe Testament as die eerste vlak van basiese vervoer in die Koninkryk van God.’

Om ‘n Christen te word is ‘n oomblik se werk; dit gebeur wanneer jy jou vertroue in Christus plaas. Om egter ‘n dissipel te word is ‘n leeftyd se werk; dit verg dat jy jouself verloën en elke dag van jou lewe vir God se wil ja sê. Wat beteken dit om ‘n dissipel van Jesus te wees? Drie dinge:

1) Om na Hom te luister en te leer. Dit beteken dat jy die waarhede in die Skrif elke dag moet lees, bestudeer, memoriseer, verbaliseer en in jou lewe moet toepas.

2) Om Hom te volg waar Hy jou ook al lei. Dit mag dalk beteken dat jy jou planne moet verander, sommige van jou verhoudings moet prysgee en Hom toegang tot die dinge wat jy graag aan wil vashou, moet gee.

3) Om toegewyd aan Hom te wees. Een dag het Jesus vir Petrus gesê: ‘…het jy My lief, meer as hulle?..’ (Johannes 21:15 NLV). Let die woorde ‘meer as’ op. Om ‘n dissipel te wees beteken dat jy liewer vir Jesus as enigiemand of enigiets anders is. Dis die vervullendste en lonendste lewe wat jy kan leef!

Sielskos: Hand 16-17; Mark 4:30-34; Ps 7:1-9; Spr 11:3-6