Wees geduldig

2019-01-13
Jakobus 1:4 NLV

Jy is nader daaraan as wat jy dink om die mens te word wat God wil hê jy moet wees. Deur sy genade, sal jy deur hierdie toets kom en sterker en wyser aan die ander kant uitkom. Paulus sê: ‘…As God aan ons kant is, wie kan ooit téén ons wees?’ (Romeine 8:31 NLV). God is aan jou kant! Die tronktralies waarteen jy slaan is net in jou gedagtes. Omdat jy hulle daar gebou het, kan jy hulle met God se hulp afbreek. God wil jou vrymaak van die bang houding wat jou vir so lank teruggehou het; om jou vry te maak om jou volle potensiaal te bereik. Die regte houding kan amper enige struikelblok oorkom. Die Bybel sê byvoorbeeld: ‘Die liefde sal nooit vergaan nie…’ (1 Korintiërs 13:8 NLV). Hoekom? Omdat liefde nie van jou emosies of omstandighede afhang nie, dis ‘n slaaf van jou wil. Liefde is ‘n besluit! Jesus het gesê: ‘Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefgehad het’ (Johannes 15:12 NLV). As dit Jesus se opdrag is, sal Hy jou in staat stel om dit te vermag! Om te begin is gewoonlik die moeilikste deel. Die reis van ‘n duisend myl begin met een tree; daarna raak dit makliker. Wees egter bedag op ou houdings wat sal probeer om sterker as ooit na die oppervlak terug te keer. Moet hulle nie toelaat om dit te doen nie. Die radiokommentator, Paul Harvey, het gesê: ‘Mens kan altyd agterkom wanneer jy op die pad na sukses is; dis al die pad opdraande.’ Wees dus geduldig; dit sal tyd neem om daar te kom. Enigiets waardevol is egter die moeite werd om voor te werk!

Sielskos: 1 Sam 3:1-11; Hand 9:1-9