Wees gedissiplineerd
2024-01-251 Timoteus 4:14 NLV
Die enigste manier om aan te hou verbeter is om aan te hou oefen. Nancy Dorman sê: ‘Die langste afstand tussen twee punte is ‘n kortpad.’ Dis waar. As jy regtig die begeerte het om in ‘n spesifieke area te groei, moet jy uitvind wat dit sal verg en dan besluit om die prys te betaal.
Dawid het nie ewe skielik sy talent as harpspeler ontdek toe hy by koning Saul se paleis aangekom het nie. Hy het dit deur jare se oefening op eensame heuwels terwyl hy na sy pa se skape gekyk het, ontwikkel. Paulus het vir Timoteus gesê: ‘Totdat ek daar opdaag, konsentreer daarop om die Skrif… te lees… Moenie die geestelike gawe verwaarloos wat jy ontvang het… nie. Gee jou volle aandag aan hierdie sake. Werp jouself in jou werksaamheid sodat almal jou vordering kan sien’ (verse 13-15 NLV).
Vooruitgang, sukses en groei vind nie deur osmose plaas nie, dit verg dissipline. Daar is nie ‘n maklike manier om ‘n gedissiplineerde persoon te word nie. Enigiemand wat net doen wat hy of sy moet wanneer hulle in die bui is of wanneer dit gerieflik is, sal agtergelaat word. Verbetering vind deur dissipline plaas.
‘n Gedissiplineerde persoon maak en aanvaar nie verskonings nie, hulle elimineer verskonings. Soos die klassieke Franse skrywer François de La Rochefoucauld gesê het: ‘Byna al ons foute is meer verskoonbaar as die maniere wat ons uitdink om dit weg te steek.’ As jy verskeie redes het hoekom jy nie gedissiplineerd kan wees nie, moet jy besef dat dit net ‘n klomp verskonings is – wat uitgedaag moet word as jy sukses in dit waarvoor God jou geroep het, wil behaal.
Sielskos: Jak 3-5; Matt 8:28-34; Ps 96; Spr 3:5-6