Wat ‘sien’ jy? (1)
2022-12-27Genesis 15:5 NLV
Visie is die Godgegewe vermoë om die onsigbare te sien. Daarsonder word mense koersloos (sien Spreuke 29:18). Toe God vir Abraham gesê het dat hy die vader van baie nasies sou wees, was hy en Sara oud en kinderloos. Natuurlik gesproke, het dit onmoontlik gelyk. “Daarom neem die Here Abram na buite toe onder die naghemel en sê: ‘Kyk op en tel die sterre. Kan jy? So sal jou nageslag wees – te veel om te tel!'” Dit was nie genoeg om te hoor wat God gesê het nie, Abraham moes dit ook in sy geestesoog sien. Alhoewel die belofte eers na twintig jaar vervul is, was die sterre elke aand wanneer Abraham na die hemel opgekyk het, ‘n konstante herinnering aan God se getrouheid.
Om geboorte aan iets te gee, moet jy dit eers verwek deur dit deur die oë van geloof te sien en die beeld daarvan op jou gedagtes in te brand. Jesus het gesê: “‘n Suiwer oog laat die lig na binne stroom sodat jy daarbinne geheel en al lig word. Maar as jou oog vuil en sleg is, versper dit die lig en jou binneste bly geheel en al donker…” (Matteus 6:22-23 NLV).
Volgens die legende het die eienaar van ‘n stuk marmer vir Michelangelo gesê dat dit waardeloos is. Michelangelo het egter geantwoord: ‘Dis onskatbaar vir my. Daar is ‘n engel daar binne opgesluit en ek moet hom bevry.’ Wat jy ‘sien’ sal die rigting van jou lewe verander. Dit sal bepaal hoe hoog jy uitstyg of hoe laag jy val. Die goeie nuus is egter, maak nie saak hoe donker dinge aan die buitekant lyk nie, God kan vandag vir jou ‘n vars visie en ‘n nuwe toekoms gee.
Sielskos: Sag 1-5; Joh 20:1-9; Ps 113; Spr 31:14-17