Wat meer kon God vir jou gedoen het?

2024-06-21
Jesaja 5:4 NLV

Die skrywer Brennan Manning vertel die verhaal van hoe hy die naam ‘Brennan’ gekry het. Tydens sy kinderjare het hy ‘n beste vriend, genaamd Ray, gehad. Die twee van hulle het alles saam gedoen: saam as tieners ‘n kar gekoop, saam op afsprake gegaan, saam skool toe gegaan, ensovoorts. Hulle het selfs saam by die weermag aangesluit en saam aan die voorste linies geveg.

Een nag, terwyl hulle in ‘n skuilgat gesit het, het Brennan nostalgies oor hulle kinderjare in Brooklyn geraak. Ray het geluister terwyl hy ‘n sjokolade stafie geëet het. Skielik het ‘n handgranaat langs hulle in die skuilgat geland. Ray het vir Brennan geglimlag, sy sjokolade een kant laat val en homself op die handgranaat gegooi. Dit het ontplof en Ray het gesterf, maar Brennan se lewe is gespaar. Later is Brennan as priester georden en daardie jare was dit die gebruik om die naam van ‘n heilige aan te neem. Hy het aan sy vriend, Ray Brennan, gedink en die naam ‘Brennan’ aangeneem.

Jare later het hy Ray se ma in Brooklyn besoek. Laat die aand het hulle gesit en tee drink toe Brennan vir haar vra: ‘Dink jy Ray was lief vir my?’ Mev Brennan het van die bank opgestaan, haar vinger in sy gesig gedruk en geskree: ‘Wat meer kon hy vir jou gedoen het?’ Brennan sê dat hy op daardie oomblik ‘n openbaring gehad. Hy het homself ingedink waar hy voor die kruis van Jesus staan en wonder: ‘Het God my regtig lief?’ En Jesus se moeder wat na haar seun wys en sê: ‘Wat meer kon Hy vir jou gedoen het?’ Toe Jesus gesê het: ‘Dit is volbring,’ is die prys van jou verlossing ten volle betaal. Die vraag is egter – sal jy Hom vandag as jou Redder en Here aanneem?

Sielskos: Eseg 46-48; Luk 1:57-66; Ps 139:7-12; Spr 15:28-30