Wat is goddelikheid?

2019-08-07
Psalm 42:2 NLV

Waaraan dink jy wanneer jy die woord goddelikheid hoor? Godsdienstige reëls en regulasies? Christene wat vinger wys en sê: ‘Jy mag nie’? G’n wonder so baie mense vermy ons nie! Is goddelikheid moontlik in ‘n era van ongeduldige bestuurders en internetaankope? Of moet ons na die dae van Little House on the Prairie terugkeer om goddelik te wees? Die feit is dat goddelikheid nie ‘n kultuur is nie, maar ‘n hartshouding. Dit het min te doen met hoe ‘n persoon lyk (alhoewel dit moeilik vir sommige van ons is om verby dit te kyk), of watse kar hulle bestuur of wat hulle besit. Dit het niks te doen met ons persoonlike voorkeure of die standaarde wat sommige van ons op ander mense wil afdwing nie. Die Bybel sê: ‘…Mense oordeel volgens uiterlike voorkoms, maar die Here kyk na gedagtes en bedoelings’ (1 Samuel 16:7 NLV). Hoe meer jy daaraan dink, hoe meer word jy oortuig dat ‘n opregte goddelike persoon iemand is wie se hart sensitief vir God is, wat God en sy Woord ernstig opneem en wat meer van Hom begeer. Dawid het uitgeroep: ‘Soos ‘n wildsbok smag na water, so smag ek na U, o God.’ Dis dit! Jy kan ryk of arm, jonk of oud, stedelik of plattelands, volgeling of leier, aktief of stil, getroud of ongetroud wees – niks daarvan maak saak nie. Wat saak maak is om ‘n begeerte te hê om God intiem te ken, om Hom te gehoorsaam en saam met Hom die pad te stap. Vra jouself dus af: ‘Wil ek goddelik wees?’ As jy nie van die antwoord hou nie, gaan op jou knieë en vra God om jou hart en houding te verander.

Sielskos: Obad; 2 Joh; Matt 15:1-14; Ps 119:33-40; Spr 17:16