Wat is al wat vir jou saak maak?

2024-02-20
Handelinge 20:24 DB

Daar is ‘n verhaal van ‘n ryk vrou wat met die Titanic gevaar het. Toe dit die ysberg tref, het sy plek in een van die reddingsbote gekry. Sy het gevra of sy gou na haar kajuit kon terugkeer en hulle het haar drie minute gegee voor die reddingsboot sou vertrek. In haar kajuit het sy oor die geld en kosbare edelstene wat die vloer besaai het, getree en drie lemoene gegryp voor sy na die reddingsboot teruggekeer het. Omstandighede het haar waardes verander; tragedie het haar prioriteite uitgeklaar.

Die vraag is nie of jou kalender vol sal wees nie, maar wie dit sal vul en waarmee dit gevul sal word? As jy wys is, sal jy God oor jou lewensprioriteite raadpleeg en dit dan te alle tye voor jou hou (sien Spreuke 3:6).

Mense ouer as negentig jaar oud, is in ‘n opname gevra: ‘As jy jou lewe kon oorhê, wat sou jy anders gedoen het?’ Drie antwoorde het aanhoudend opgeduik: 1) Ek sou meer tyd saam met my familie en vriende bestee het. 2) Ek sou meer dinge uitprobeer het en meer risiko’s geneem het. 3) Ek sou myself aan iets gee wat sal voortleef nadat ek weg is. As jy vir elke versoek ja sê, sal jy nooit by dit waarvoor God jou geroep het, uitkom nie.

Paulus het dit uitgepluis: ‘…Al wat saak maak, is dat ek doen wat die Here vir my sê om te doen. En dit is om die goeie nuus oor God se goedheid bekend te maak.’ Jou grootste uitdaging is om dinge te dink en te doen wat uiteindelik saak maak. ‘Was hulle maar wys, sou hulle verstaan en sien wat hulle lot sal wees!’ (Deuteronomium 32:29 NLV).

Sielskos: Heb 11:17-13:25; Matt 14:13-36; Ps 28; Spr 5:3-6