Wat gaan jou nalatenskap wees? (2)

2021-05-22
Psalm 61:6 AFR53

Daar is ‘n storie oor ‘n hipokonderse persoon wie se grafsteen gelees het: ‘Ek het julle mos gesê ek is siek!’ Wat wil jy hê moet eendag op jou grafsteen staan? In Walden, het Henry David Thoreau sy bekommernis uitgespreek dat wanneer sy tyd kom om te sterf, hy sal uitvind dat hy nooit ten volle gelewe het nie. Wanneer dit by jou nalatenskap kom, is daar twee dinge wat jy in gedagte moet hou:

1) Niemand sal soveel vir jou nalatenskap omgee soos jy nie. Wees dus doelgerig wanneer jy op jou nalatenskap besluit; op hierdie manier verhoog jy die kans aansienlik om ‘n impak op die volgende generasie te maak.

2) Die som van hoe jy jou lewe elke dag leef, word jou nalatenskap. Tel elke aksie oor baie jare op en jy sal jou nalatenskap sien vorm aanneem.

Grenville Kleiser skryf in Inspirations and Ideals: ‘Jou lewe is soos ‘n boek. Die voorblad is jou naam. Die voorwoord is jou bekendstelling aan die wêreld. Die bladsye is ‘n daaglikse weergawe van jou pogings, probleme, plesiere, teleurstellings, ambisies en prestasies. Dag na dag word jou gedagtes en dade opgeskryf as bewys van jou sukses of mislukking. Uur na uur word rekord gehou van dit wat vir altyd moet staan. Een dag moet die woorde ‘Die Einde’ geskryf word. Laat daar van jou boek gesê word dat dit ‘n opgawe van edele doelstellings, vrygewige diens en goed gedane werke is.’

Die meeste van ons kan nie kies hoe of wanneer ons gaan sterf nie, maar ons almal kan kies hoe ons gaan lewe. Dis ons nalatenskap aan diegene wat ons volg.

Sielskos: 1 Kon 6-7; Mark 10:35-52; Ps 97; Spr 12:1-3