Wat gaan jou nalatenskap wees? (1)
2021-05-21Spreuke 13:22 NLV
Die leierskapskundige dr John Maxwell skryf: ‘Op 18 Desember, 1998, het ek ‘n ernstige hartaanval gehad. Ek onthou dat ek daardie aand, terwyl ek op die vloer gelê en vir die ambulans gewag het, twee dinge gedink het: Eerstens, dat ek te jonk was om dood te gaan. Tweedens, dat ek sommige van die dinge wat ek wou bereik, nog nie voltooi het nie. Een van die voordele van my ervaring is dat dit my gemotiveer het om myself af te vra: ‘Wat gaan my nalatenskap wees?’ ‘n Nalatenskap is iets wat ons vir die volgende generasie agterlaat. Dit kan besittings wees wat ons in ander se hande plaas. Dit kan beginsels wees waarvolgens ons gelewe het. Dit kan ook die mense wees op wie ons invloed uitgeoefen het en wie se lewens beter was omdat hulle ons geken het.’
Probeer altyd hierdie twee dinge in gedagte hou: 1) Vandag is al wat jy het. Onthou die woorde op ‘n grafsteen wat gelees het: ‘Ek het dit verwag, maar nie so gou nie!’ Ons almal hoop vir ‘n lang lewe, maar geeneen van ons weet of ons môre gaan sien nie. ‘Moenie te veel praat oor wat môre kan gebeur nie. Jy weet glad nie wat môre gaan oplewer nie’ (Spreuke 27:1 NLV).
2) Jy sal ‘n nalatenskap agterlaat. “‘n Goeie mens laat iets na vir kleinkinders. ‘n Sondaar se besittings beland by die regverdiges.” ‘n Goeie man of vrou kan ‘n nalatenskap hê wat die volgende twee generasies sal seën. Fokus dus daarop om goed te wees en goed te doen en vra jouself gereeld af: ‘Hoe wil ek deur my geliefdes onthou word? Wanneer my tyd op aarde verby is, sal ek aanhou om ander mense vir goed en vir God te beïnvloed?’
Sielskos: 1 Kon 3-5; Mark 10:23-34; Ps 93; Spr 11:30-31