Wat die Bybel ons oor geld leer

2024-01-21
Psalm 62:11 NLV

Kom ons bevestig dit eens en vir altyd. As God jou met geld kan vertrou, sal Hy jou finansieel seën (sien 2 Korintiërs 9:6-11 NLV). Daar is egter sekere voorwaardes aan sy seëninge gekoppel. Hier is vier van hulle wat jy moet eer.

1) Moenie krediet daarvoor probeer vat nie. God het vir die Israeliete gesê: ‘Hy het dit gedoen sodat jy nie moet dink dit is deur jou eie krag en energie waardeur jy ryk geword het nie. Onthou altyd dat dit die Here jou God is wat vir jou die krag gee om ryk te word… As jy ooit die Here jou God vergeet… sal jy verseker vernietig word’ (Deuteronomium 8:17-19 NLV).

2) Moenie ander mense vergeet nie. Die Bybel beveel ons: ‘Sê aan hulle wat ryk is in hierdie wêreld… hulle vertroue moet in die lewende God wees wat aan ons ryklik alles skenk wat ons nodig het om die lewe te geniet. Hulle moet ryk wees in goeie dade en moet ruim gee aan dié in nood…’ (1 Timoteus 6:17-18 NLV).

3) Moenie arrogant word nie. Jeremia vermaan ons: ‘…Mense met insig moenie spog met hulle kennis nie… Ryk mense moenie roem in hulle rykdom nie. Laat hulle wat wil spog, dit doen omdat hulle My ken, en begryp dat Ek die Here is…’ (Jeremia 9:23-24 NLV).

4) Moet niks toelaat om God se plek in te neem nie. ‘…laat my nie arm of ryk wees nie. Gee asseblief vir my net dit wat reg is. As ek te veel het, sal ek U verloën en vra: ‘Nou wie is die Here?’…’ (Spreuke 30:8-9 NLV). Onthou, jy besit niks nie – jy is net ‘n administrateur van God se boedel en ‘n eksekuteur van sy wil. Dis ‘n wonderlike verantwoordelikheid, maak dus seker dat jy jou goed van jou taak kwyt.

Sielskos: Eks 20:7; Jes 29:22-24; Matt 6:9; Fil 2:5-11