Ware insig word in die Bybel gevind
2020-12-15Psalm 119:104 NLV
Ware insig kom van God af – dis ‘n gawe wat slegs Hy kan gee. Dis hoekom Salomo vir God vir insig gevra het, eerder as om op sy eie staat te maak. God sal vir jou insig deur sy Woord gee. ‘Dit is tog die Here wat wysheid gee. Sy woorde gee kennis en insig’ (Spreuke 2:6 NLV). Dawid het gesê: ‘Deur u bevele kry ek insig…’ Die Bybel is geskryf sodat ons insig kan hê en die lewe kan interpreteer soos God dit doen.
Paulus, wat ‘n groot gedeelte van die Nuwe Testament geskryf het, het vir Timoteus gesê: ‘Dink na oor wat ek sê. Die Here sal jou help om al hierdie dinge beter te begryp’ (2 Timoteus 2:7 NLV). Soos jy jouself in die Skrif verdiep, praat God met jou. Hy sê in wese: ‘Dis hoe Ek dit sien, en dis hoe Ek wil hê jy dit moet sien.’ In die Bybel sal jy leer hoe om waarlik suksesvol te wees. Jy sal die antwoord op jou finansiële probleme kry, hoe om jouself van angs te genees en hoe om verhoudingsprobleme op te los. Dit sal jou gesinsverhoudings rig – die vloei van gesag in die huis, insluitend die posisie van die man, die vrou en die kinders. Dit bevat die kuur vir senuweeagtigheid en depressie. Dis selfs ‘n reinigingsmiddel om jou te help om sonde uit jou gedagtes en lewe te verwyder. ‘Hoe kan ‘n jongmens ‘n skoon lewe lei? Deur gehoorsaam te wees aan u woord’ (Psalm 119:9 NLV).
In kort, is die Bybel die beste handleiding vir sukses in die wêreld! Die psalmdigter het gesê: ‘Begrip van u woord bring lig; dit gee insig aan die eenvoudige’ (Psalm 119:130 NLV). As jy dus ware insig wil hê, mediteer vandag oor die Skrif.
Sielskos: Neh 5-7; Joh 19:31-42; Ps 105:23-36; Spr 30:15-19