Wanneer jy in die donker is (1)

2022-08-06
Psalm 112:4 NLV

Geloof is soos film; dit word in die donker ontwikkel. Donker dae laat jou op God leun. Die waarheid is dat indien jou geloof nooit getoets word nie, jy nie gemotiveerd sal wees om nader aan God te beweeg nie. Die gesangeskrywer Edward Mote het geskryf: ‘When darkness veils His lovely face, I rest on His unchanging grace… When all around my soul gives way, He then is all my hope and stay. On Christ, the solid Rock, I stand; all other ground is sinking sand.’

Dis maklik om God te prys wanneer jy gesond is en jou rekeninge betaal is. Dis egter gedurende die donker dae wat jy ontdek waarvan jou geloof gemaak is en waar jou vertroue waarlik lê: in jouself, in ander mense, of in God. Wanneer jou dae so donker soos jou nag voel, is hier ‘n Skrifgedeelte waarop jy kan staan: ‘…Hy wat sonder enige lig in die donker loop, moet vertrou op die Naam van die Here, en staatmaak op sy God!’ (Jesaja 50:10 NLV).

Job het ‘n voorbeeldige lewe gelei, maar tog alles verloor. Ontsteld en verward het hy uitgeroep: ‘God het my pad versper. Hy het dit donker voor my gemaak’ (Job 19:8 NLV). Job kon nie ‘n weg uit die situasie sien nie. Toe het hy ontdek dat wanneer jy nie die rede kan vind nie, jy die verhouding kan vertrou. ‘Tot nou toe het ek net met my ore van U gehoor, maar nou het ek U met my eie oë gesien’ (Job 42:5 NLV). Toe hy hierdie ontdekking gemaak het, het alles verander: ‘Die Here het die laaste deel van Job se lewe meer geseën as die eerste…’ (Job 42:12 NLV). Wat God vir Job gedoen het – sal Hy ook vir jou doen.

Sielskos: Deut 11-13; Mark 2:23-3:6; Ps 78:65-72; Spr 17:1-2