Wanneer jy getoets word

2022-07-20
Genesis 22:10 NLV

Ons word nie almal op dieselfde manier getoets nie, maar ons word almal oor dieselfde kwessies getoets. Kyk na Abraham. Nadat hy twintig jaar gewag het, het God vir hom ‘n seun gegee wat die belofte dat hy ‘…die voorvader… van baie nasies’ (Genesis 17:5 NLV), sou wees, sou vervul. Toe het God vir hom gesê om daardie seun op ‘n afgeleë altaar in die woestyn te gaan offer. Dit het nie sin gemaak nie, omdat dit God se belofte weerspreek het, maar tog het Abraham gehoorsaam.

Dis onwaarskynlik dat jy geroep sal word om voor dieselfde uitdagings as Abraham te staan te kom, maar weet verseker, jy sal oor dieselfde kwessies getoets word. Jy sal oor jou vlak van toewyding getoets word. Wanneer dinge moeilik raak, sal jy aan God toegewy bly en sy Woord gehoorsaam, of sal jy ‘n ander uitweg soek? Wanneer dit nie sin maak nie, nie regverdig is nie en jy dit nie verdien nie, sal jy God vertrou en aan Hom getrou bly?

Jy sal getoets word oor wie in beheer van jou lewe is. Wanneer jy die Vyand se hand aan die werk kan sien, of die persoon wat vir jou pyn verantwoordelik is kan identifiseer, sal jy onthou dat ‘alles ten goede sal saamwerk’ en dat God in beheer is? (Sien Romeine 8:28).

Jy sal oor jou geloof getoets word. ‘Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom wou toets, sy seun as’t ware al klaar geoffer gehad…’ (Hebreërs 11:17 NLV). Hoe kon ‘n liefdevolle vader so iets doen? Omdat hy nooit getwyfel het dat God vir Isak ‘selfs uit die dood sou kon opwek’ (vers 19 NLV), nie.

Wanneer jy dus getoets word: ‘…hou styf vas aan die hoop wat ons bely, want ons kan op God staatmaak; Hy sal doen wat Hy beloof het’ (Hebreërs 10:23 NLV).

Sielskos: Hand 6-7; Matt 26:57-75; Ps 133; Spr 16:2