Wanneer iemand jou in die steek laat
2024-10-22Psalm 141:3 NLV
Toe William Gladstone die minister van finansies in Brittanje was, het hy versoek dat die tesourie vir hom sekere statistieke stuur waarop hy sy begrotingsvoorstelle kon baseer. Ongelukkig het die statistikus ‘n fout gemaak, maar Gladstone was so seker van hierdie man se reputasie vir akkuraatheid dat hy nie die tyd geneem het om die syfers te verifieer nie. Gevolglik het Gladstone ‘n toespraak op grond van die verkeerde inligting wat aan hom gegee is, gelewer. Dit was nie lank nadat sy toespraak gepubliseer is dat die onakkuraathede blootgelê is, en hy die onderwerp van verskriklike openbare bespotting geword het nie.
Toe die minister die statistikus laat haal wat die onakkurate inligting aan hom gegee het, het die man vol vrees en skaamte opgedaag, seker dat hy afgedank gaan word. In plaas daarvan het Gladstone gesê: ‘Ek weet hoe ontsteld jy oor wat gebeur het is, dus het ek jou ingeroep om jou gerus te stel. Jy is al lank met die hantering van die ingewikkelde nasionale rekeninge besig en dit is die eerste fout wat jy gemaak het. Ek wil jou gelukwens en my groot waardering daarvoor aan jou uitspreek.’ Kan jy jou die verligting, dankbaarheid en hoop van die man indink toe hy uit Gladstone se kantoor geloop het?
Dit verg ‘n Christelike persoon om barmhartigheid te betoon, om te luister sowel as om te praat en om te dink voordat jy tot aksie oorgaan. In plaas daarvan om dus vandag in woede vergelding te neem, bid eerder: ‘Sit ‘n wag voor my mond, Here, hou wag oor wat ek sê.’ Wanneer jy so begin bid – en dit opreg bedoel – dui dit daarop dat jy in genade groei.
Sielskos: Eks 39-40; Joh 5:1-15; Ps 41; Spr 27:7-9