Wanneer God die deur oopmaak (1)

2024-10-20
Openbaring 3:8 NLV

Wanneer jy God se wil soek, is daar twee dinge wat jy nooit moet doen nie. Eerstens, wanneer die deur toe is, moet jy nie ongeduldig raak en dit probeer oopforseer nie. Tweedens, moet jy nie jou eie deur maak nie. Die Bybel sê: ‘Skryf aan die voorganger van die gemeente wat in Filadelfia geleë is. So sê die Heilige, die Betroubare – Hy wat die sleutel van Dawid hou en deure oopsluit, en niemand kan dit toesluit nie; Hy sluit en niemand kan dit weer oopmaak nie. Ek ken jou handel en wandel. Kyk, Ek het ‘n geopende deur voor jou gegee en niemand kan dit weer toemaak nie. Al het jy ook net beperkte krag, het jy my boodskap nogtans gehoorsaam en My nie verloën nie’ (verse 7-8 NLV).

Vir wie maak God deure oop? 1) Mense met ‘beperkte krag.’ Jou foute diskwalifiseer jou dus nie, mits jy gewillig is om daaruit te leer. Jou ontoereikendheid beperk God nie, as jy dit toelaat om jou meer afhanklik van Hom te maak nie.

2) Mense wat sy boodskap ‘nogtans gehoorsaam.’ Die mense vir wie God deure oopmaak, word deur hierdie beginsel gelei: ‘Wat ook al God se Woord daaroor sê, gaan ek dink, glo en doen.’ As dit nie op God se bloudruk is nie, moet dit nie bou nie. As dit nie in God se resepteboek is nie, moet dit nie meng nie.

3) Mense wat Hom ‘nie verloën nie.’ Ongeag verwerping of bespotting, praat hierdie mense met vrymoedigheid oor die dinge wat die belangrikste in hulle lewens is, insluitend hul verhouding met Jesus.

As jy wil hê dat God deure vir jou moet oopmaak, moet jy elke dag volgens hierdie beginsels leef.

Sielskos: Hand 13:21-22; 1 Sam 16; 1 Sam 17:32-51; 1 Sam 24:1-17