Wanneer dinge verkeerd gaan
2018-11-12Genesis 40:15 NLV
Josef het ‘n voorbeeldige lewe gelei. Hy het ‘n fortuin vir sy werkgewer gemaak, die seksuele toenadering van sy baas se vrou weerstaan en getrou aan God gebly. Wat was egter sy beloning? ‘n Gevangenisstraf sonder enige vooruitsig van parool. Soms lei die regte pad jou oor die afgrond, omdat daar boosheid in die wêreld is. Solank as wat Satan soos ‘n brullende leeu rondloop (sien 1 Petrus 5:8), sal hy chaos onder God se kinders saai. Hy sal predikers soos Paulus in tronke laat opsluit. Hy sal pastore soos Johannes na verafgeleë eilande verban. Hy sal Jesus se vriende, soos Lasarus, met siektes tref. Sy strategieë loop egter altyd verkeerd. Paulus het die sendingsbriewe geskryf. Die verbanne Johannes het die hemel gesien. Die grafkelder van Lasarus het ‘n verhoog geword waarop Christus een van sy grootste wonderwerke kon uitvoer. Die tronk waarin hulle Josef gegooi het, het ‘n trappie na die paleis geword waarvoor God hom bestem het. Toe Josef terugkyk, kon hy sê, ‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is. Hy het my gebring tot in hierdie hoë pos wat ek beklee sodat ek die lewens van baie mense kon red’ (Genesis 50:20 NLV). Kyk uit vir God se doel in die moeilike tye in jou lewe en jy sal begin om hulle as trappe na seën te sien. ‘Die Here… sal nie bedaar nie totdat Hy gedoen en bereik het wat Hy beplan het…’ (Jeremia 30:24 NLV). God sal die omstandighede waarin jy jou vandag bevind, gebruik om jou te versterk, jou nader aan Homself te bring en sy wil in jou lewe te vervul.
Sielskos: Rom 1:1-3:20; Joh 9:24-41; Ps 99; Spr 29:11-14