Wanneer dinge nie volgens plan uitwerk nie

2019-05-05
Romeine 15:24 NLV

Die wêreld gaan homself nie daaraan toewy om ons gelukkig te maak nie; en eers wanneer ons dit aanvaar, kan ons begin vorentoe beweeg. Baie kere werk die lewe nie so uit soos ons dit beplan het nie. Paulus het geskryf: ‘…Ek hoop om julle op my deurreis na Spanje te sien…’ Hy het egter nooit by Spanje uitgekom nie; in plaas daarvan het hy in die tronk beland. Dis egter in die tronk wat hy die sendbriewe geskryf het. Jou teleurstelling mag dus dalk God se aanstelling wees! Die Bybel sê: “‘n Mens bepaal sy koers, maar die Here bepaal sy bestemming” (Spreuke 16:9 NLV). Is jy nie bly dat God in beheer van jou lewe is nie? Laat die filosowe stry oor hoekom die lewe werk soos dit doen; fokus jy net daarop om te lewe! Watter nut is daarin om honderd jaar oud te word, wanneer spyt en wrokke jou daarvan weerhou om dit te geniet? Watter nut het meer tyd, wanneer jy die tyd wat jy reeds het mors? Weet jy hoe ‘n oester ‘n pêrel maak? Wanneer ‘n korreltjie sand by sy skulp inkom en dit irriteer, draai die oester die sand in lae skoonheid toe totdat ‘n pêrel gevorm word. ‘n Onbekende digter het geskryf: ‘This tale has a moral, for isn’t it grand, what an oyster can do with a morsel of sand? What couldn’t I do if I’d only begin, with all of the things that get under my skin?’ God is aan die werk in dit wat jy vandag deurmaak – ten goede van jou en vir sy verheerliking. Jy moet Hom net vertrou.

Sielskos: Eks 20:12; Ef 6:1-3; Matt 15:1-9; Joh 19:25-27