Waaroor hierdie toets gaan

2018-11-30
1 Petrus 1:7 NLV

Die toetse waar voor ons te staan kom, openbaar beide ons swakpunte en ons sterkpunte. Wanneer die Bybel van ‘n ‘…vuur wat metaal suiwer…’ (Maleagi 3:2 NLV) praat, is ons geneig om aan die negatiewe dinge wat God uit ons karakter wil verwyder, te dink. Ons het egter ook innerlike sterkpunte en gawes wat gesuiwer moet word waarvan ons nie bewus is nie, omdat daar nog nie ‘n vereiste op hulle geplaas is nie. In 1 Konings 17, toe die weduwee en haar seun Elia ontmoet het, was daar hongersnood in die land en hy het hulle gevra om hulle laaste maaltyd met hom te deel. Miskien dink jy, ‘Tipies prediker!’ Moenie te gou gevolgtrekkings maak nie! Een van die beste dae van hierdie vrou se lewe is toe God iets van haar geloof vereis het. Haar reaksie het haar toekoms verander en haar familie gered. Wanneer jy dus voor ‘n behoefte te staan kom, hoe reageer jy? Onttrek jy? Weerhou jy? Gee jy uit ‘n sin van verpligting? Of sien jy dit as ‘n geleentheid om God te gehoorsaam en jou toekoms te verander? Toe God vir Moses na Farao toe gestuur het, het Hy gesê, ‘Ek weet dat die koning van Egipte julle nie sal laat gaan nie. Hy sal eers gedwing moet word. Daarom sal Ek ingryp…’ (Eksodus 3:19-20 NLV). Vandag mag God dalk die vyand toelaat om jou te toets, om sodoende die volgende te openbaar: 1) hoe baie Hy vir jou omgee; 2) hoe jy sal optree wanneer jou rug teen die muur is; 3) wie jy sal glo wanneer God sê dat Hy sal ingryp en die Vyand sê dat hy jou nie sal laat gaan nie. Dis waaroor hierdie toets gaan.

Sielskos: Gen 24:1-25:18; Joh 14:15-25; Ps 118:19-29; Spr 31:14-17