Waak teen afguns en jaloesie

2024-01-15
Galasiërs 5:26 NLV

Paulus het die vroeë kerk teen afguns gewaarsku en dis steeds vandag ‘n probleem. Jou kollega kry ‘n salarisverhoging, ‘n vriend se kind wen ‘n beurs, ‘n buurman gaan op ‘n droomvakansie. Is jy saam met hulle bly, of forseer jy ‘n stywe glimlag? Ons is menslik; ‘n sprankie jaloesie elke nou en dan is normaal. Waak egter daarteen om altyd onvergenoegd te wees. Tacitus het gesê: ‘Wanneer mense vol afguns is, verag hulle alles… goed of sleg.’

Wanneer iemand anders voorspoedig is, voordat jy vra: ‘Hoekom nie ek nie?’ vra jouself af of jy op dieselfde manier sou reageer as hulle een of ander tragedie oorgekom het. Een skrywer herinner ons: ‘Wanneer ons onsself in die vallei bevind, is dit menslik om jaloers op diegene bo-op die berg te wees. Dit is maklik om te vergeet dat hulle nie daar geval het nie – hulle het soontoe geklim. Agter elke suksesstorie is daar altyd ‘n moeilike besluit en ‘n dapper daad. As ons hulle wil bereik, moet ons begin klim. Inspirasie mag ons dalk aan die gang kry, maar die sukses lê in die klim.’

Dink aan ‘n naelloper; hy is vinnig, gefokus en voor die res van die groep. Dan begin hy na sy kompetisie kyk. Kort voor lank struikel hy, verloor sy momentum en val uit die resies uit. Dis wat gebeur wanneer jy toelaat dat jaloesie jou aandag aflei van die koers wat God vir jou beplan het. Paulus skryf: ‘Julle het so goed gevorder. Wie het julle gekeer om die waarheid te bly gehoorsaam?’ (Galasiërs 5:7 NLV). Hou jou oë op die prys en moenie jou aandag laat aflei deur wat ander mense het en nie het nie. Dis nie jou saak nie.

Sielskos: Lev 23:26-25:55; Matt 5:38-48; Ps 74:1-11; Spr 2:6