Waag dit om te droom
2019-01-19Filippense 3:13 DB
Om met vertroue vorentoe op jou lewensreis te beweeg, het jy ‘n betroubare padkaart nodig. In die Bybel word dit ‘n droom of visie genoem. Vir Moses was dit om God se mense uit slawerny na die Beloofde Land toe te lei. Vir Florence Nightingale het dit beteken om genesing en hoop aan die gewonde en sterwende soldate in die Krim-oorlog te bring. Vir Thomas Edison was dit om die wêreld met gloeilampe te verlig. Die feit bly staan, enigiemand wat al ooit ‘n verskil in die lewe gemaak het, het met ‘n droom begin wat uiteindelik hulle lewenspassie geword het. Vir die uitgewers van hierdie dagstukkies, is dit om God se Woord in die hande van soveel mense as moontlik in elke nasie op aarde te plaas! Hoe weet jy of jou visie van God af kom? Dit sal jou seën en vir ander tot voordeel wees. As jou droom egter is om in ‘n herehuis te bly en ‘n fortuin vir jouself bymekaar te maak, moenie daarop staatmaak dat God dit sal onderskryf nie. Inspirasie sonder perspirasie is net ‘n dagdroom. Veertig persent van die mense wat jy ontmoet, het wonderlike idees, maar al wat hulle daaraan doen, is om daaroor te praat. Die ander veertig persent van mense werk hard en sal gewillig wees om hulle alles vir ‘n droom te gee – maar hulle het nie een nie. Net die laaste twintig persent van mense het ‘n droom en die geloof om dit te bewaarheid. Selfs as jy deel van hierdie laaste groep is, is daar geen waarborge dat jy suksesvol sal wees nie. Jy het egter ‘n goeie kans – beter as tagtig persent van die mense om jou. Gaan dus voort – waag dit om te droom.
Sielskos: Jes 63-66; Luk 4:14-30; Ps 89:15-37; Spr 2:21-22