Vrygespreek – deur geloof (1)
2020-03-232 Korintiërs 5:21 NLV
Hier is ‘n wonderbaarlike en lewensveranderende waarheid. Die God wat sy sondelose Seun ‘sonde gemaak’ het, neem sondige mense soos ons en spreek hulle vry. Hoe gebeur dit? Deur dade? Nee, deur geloof! ‘Daarteenoor staan die saak heeltemal anders met daardie mense wat geen prestasie het waarop hulle kan staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddeloses vryspreek – hulle word op grond van hulle geloof vrygespreek’ (Romeine 4:5 NLV). Hierdie vryspraak gaan nie daaroor om op die regte manier op te tree nie – dit gaan daaroor om op die regte manier te glo. Jy kan nie deur menslike pogings of om die wette te onderhou deur God vrygespreek word nie. Jy word net deur geloof in Christus en deur vertroue in sy voltooide werk aan die kruis, vrygespreek. Jy sê: ‘Maar ek voel so skuldig wanneer ek sondig.’ Jy moet; dis ‘n goeie afskrikmiddel! Christus het egter al jou sondes weggeneem; dus het Hy ook al jou skuld weggeneem. Wat voel jy dus? Innerlike konflik! Jy het ‘n nuwe gees in jou ou liggaam, wat op dieselfde manier as jou natuurlike liggaam teenoor iets skadeliks reageer. Sonde voel vreemd vir die nuwe jy en wanneer jy in sonde verval, is die plesier kortstondig en die nadraai daarvan sleg. Jou geestelike grense word oorgesteek en jou nuwe gees sê vir jou dat jy nie meer kan sondig nie. Dis nie wie jy is nie! Die ou jy kon sondig en dit geniet, maar die nuwe jy kan nie, omdat jy ‘n nuwe skepping in Christus is (sien 2 Korintiërs 5:17). Wees dus bly! God het jou vrygespreek, dus kan jy Hom enige tyd met vrymoedigheid nader (sien Efesiërs 3:12).
Sielskos: Job 15-17; Matt 24:36-51; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18