Vriende met God (3)
2019-04-13Psalm 103:7 NLV
Kom ons luister weer as Moses met God praat. ‘As dit dan so is, sê asseblief wat u planne is sodat ek kan weet wat U van my verwag…’ (Eksodus 33:13 NLV). Israel was midde-in ‘n krisis wat hulle verhouding met God bedreig het, maar waarvoor het Moses gebid? Nie, ‘Here, U moet hierdie probleem vir my oplos!’ nie. Hy het eerder gebid: ‘…sê asseblief wat u planne is sodat ek kan weet wat U van my verwag…’ Hy wou meer as net inligting van God gehad het, hy wou intimiteit met Hom gehad het: om sy hart en gedagtes te ken – hoe Hy oor die situasie gedink en gevoel het. God se guns en om Hom te ken sou al die ander dinge wat hy nodig gehad het meebring, insluitend ‘n oplossing vir die krisis. God het hom gegee wat hy gevra het. ‘Hy het sy wil aan Moses openbaar en sy dade aan die volk Israel.’ God het op Moses se versoek as volg gereageer: “…’Moet Ek dan self saamgaan sodat jou hart kan rus?'” (Eksodus 33:14 NLV). In die Hebreeuse teks is die woord ‘jou’ ook enkelvoudig. God het beloof om saam met Moses te gaan en slegs aan hom rus te gee. Enigiemand anders sou dit dankbaar aanvaar het, maar nie Moses nie! Sy gebed het sy eie belange oortref: “…’As U nie saam met ons gaan nie, moet U ons nie eers ‘n tree van hier af laat beweeg nie'” (vers 15 NLV). Is jou gebede groter as jouself en jou eie behoeftes? Die Bybel sê: ‘God het die mensewêreld só liefgehad…’ (Johannes 3:16 NLV). Bid dus dat jou familie, jou dorp en ‘n verlore wêreld nie sal vergaan nie, maar die ewige lewe sal hê!
Sielskos: Dan 5-7; Luk 22:47-53; Ps 103:1-12; Spr 10:13