Vrees is ‘n valse realiteit

2019-04-15
Psalm 56:4 NLV

Dawid het gesê: ‘Die dag wanneer ek bang word, sal ek net op U vertrou… In God is my vertroue; ek sal nie vrees nie. Wat kan mense aan my doen?’ (vers 4-5 NLV). Dawid behoort te weet, want God het hom in staat gestel om ‘n leeu, ‘n beer en ‘n reus te verslaan. Daar is ‘n verhaal van ‘n man wat na ‘n plaashuis op pad was en elke paar meter was daar ‘n waarskuwingsbord wat ‘Pasop vir die hond’ gelui het. Toe hy uiteindelik die plaashuis bereik, het hy ontdek dat die hond ‘n piepklein Chihuahua was. ‘Bedoel jy dat daardie klein hondjie mense afskrik?’ het hy gevra. Die boer het geglimlag en gesê: ‘Nee, maar die waarskuwingsborde doen dit!’ Vrees brul soos ‘n leeu, maar baie keer wanneer ons dit konfronteer, is dit net ‘n Chihuahua! Die waarheid is dat jy enigiets kan oorkom wanneer jy weet dat God die volgende belowe het: “Ek gryp jou regterhand vas… En Ek sê vir jou: ‘Moenie bang wees nie. Ek is daar om jou te help!'” (Jesaja 41:13 NLV). In plaas van om die ergste te vrees, begin God vir die beste te glo. Jy kan dit doen deur sy beloftes te verpersoonlik: ‘Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek hou jou vas met my reddende regterhand’ (Jesaja 41:10 NLV). ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (Romeine 8:28 NLV). Moenie toelaat dat vrees die oorhand kry nie. Staan eerder op die Woord van God en glo dat Hy jou deur jou omstandighede sal bring en jou sterker sal maak.

Sielskos: Dan 8-10; Luk 22:54-62; Ps 103:13-22; Spr 10:14