Vra jy God vir ‘n kind?

2020-02-23
1 Samuel 1:27 NLV

Hanna wou bitter graag ‘n moeder word. ‘…Sy het tot die Here gebid…terwyl sy vreeslik huil’ (vers 10 DB). Sy het ook ‘n belofte aan God gemaak dat indien Hy haar ‘n seun sou gee, sy hom ‘…vir sy lewe lank aan U, Here, teruggee…’ (vers 11 DB). Dit het so gebeur. Die Bybel sê: ‘Binne drie maande het Hanna ‘n baba verwag… (vers 20 DB). Rut het dieselfde ondervinding gehad: ‘…Boas [was] die pa van Obed by Rut…’ (Matteus 1:5 NLV). Rut was ‘n brandarm weduwee toe God haar aan Boas, die eienaar van die veld waarin sy gerwe opgetel het, voorgestel het. Sy was ‘n nie-Jood, hy was ‘n Jood en hulle is deur die wet verbied om te trou. God het egter die struikelblok wat in hulle pad gestaan het verwyder en uit hulle huwelik is ‘n klein seuntjie genaamd Obed gebore. Hy was ‘n stamvader van koning Dawid en uiteindelik ook van ons Here Jesus. God het gesê: ‘Ek is die Here, die God van al die mense. Is daar iets te moeilik vir My om te doen?’ (Jeremia 32:27 NLV). Vir ingeval jy nie seker van die antwoord op daardie vraag is nie, lees die volgende: ‘…U het die hemel en die aarde deur u groot krag en mag gemaak. Niks is vir U te moeilik om te doen nie!’ (Jeremia 32:17 NLV). As jy vandag vir God vir ‘n kind vra, staan op hierdie Skrifgedeeltes en glo Hom: ‘Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee. Vertrou jou lewe toe aan die Here. Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg… Wees stil in die Here, en wag geduldig op Hom…’ (Psalm 37:4-5, 7 NLV).

Sielskos: Titus 2:1-14; Gen 39:6-12; Spr 25:28