Vra God vir ‘n droom (3)
2019-01-03Genesis 37:5 NLV
Die verhaal van Josef leer ons dat sukses kan veroorsaak dat ander mense jou sleg behandel. Nie almal sal jou sukses vier nie, insluitend sommige wat die naaste aan jou is. Toe Jesus bekend begin raak het, was die eerste mense wat Hom verwerp het, inwoners van die dorp waarin Hy grootgeword het. Dit het Hom genoop om te sê, ‘…n Profeet word oral gerespekteer behalwe in sy tuisdorp en in sy eie familiekring’ (Matteus 13:57 NLV). Die Bybel sê, ‘Al die broers was jaloers op Josef…’ (Genesis 37:11 DB). Wanneer God jou seën, sal party mense jou teiken. Sommige sal voel dat hulle dit meer verdien as jy en dat jy jou seëning ten koste van hulle ontvang het. Dis hoe Kaïn gevoel het toe hy sy broer, Abel, vermoor het. Dis hoe koning Saul gevoel het toe Dawid vir Goliat doodgemaak het en die mense gesing het, ‘…Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!’ (1 Samuel 29:5 NLV). Jaloesie is soos ‘n boemerang, dit keer terug om die een wat dit gegooi het, seer te maak. Toe hulle vader ‘n partytjie gehou het om die tuiskoms van sy verlore seun te vier, het die ouer broer gesê, ‘…Ek het al die jare hard gewerk vir Pa… En in al hierdie tyd het Pa my nie eers ‘n bokkie gegee om saam met my vriende fees te vier nie’ (Lukas 15:29 NLV). Hy het drie foute gemaak wat ons self dikwels maak: a) Hy het homself met sy broer vergelyk. b) Hy het sy broer se sondes en tekortkominge blootgestel. c) Hy het nie die liefde wat sy pa vir hom gehad het en die seëninge wat sy pa vir hom gegee het, waardeer nie. Leer dus uit sy foute.
Sielskos: Jes 4-7; Luk 1:11-25; Ps 90:7-17; Spr 1:5-9