Voor jy leen
2019-02-02Spreuke 30:8 NLV
Wanneer jy daaroor besin, kan jou rykdom op twee maniere bepaal word: óf die hoeveelheid wat jy besit, óf die hoeveelheid waarmee jy tevrede is. Baie van die huidige skuldkrisis is deur ons onvermoë om met genoeg tevrede te wees, veroorsaak. In ‘n briljante deel van Spreuke vind ons hierdie gebed: ‘Twee dinge wil ek van U vra. Moenie dit weier solank ek leef nie. In die eerste plek, keer tog dat ek lieg. In die tweede plek, laat my nie arm of ryk wees nie. Gee asseblief vir my net dit wat reg is. As ek te veel het, sal ek U verloën en vra: ‘Nou wie is die Here?’ As ek te arm is, sal ek steel en God se Naam beswadder’ (verse 7-9 NLV). Na aanleiding van hierdie Skrifgedeelte, moet ons die volgende ses riglyne volg wanneer ons geld wil leen. Skuld is verkeerd: 1) Wanneer jy dit nie op ‘n tydige basis kan terugbetaal nie. 2) Wanneer dit jou daarvan weerhou om God se regmatige deel vir Hom te gee. 3) Wanneer die skuldlas so swaar is dat jy nie vir die toekoms kan spaar nie. 4) Wanneer dit vir die luukshede in die lewe gebruik word. 5) Wanneer jy ander mense in gevaar stel deur hulle vir jou te laat borg staan (sien Spreuke 6:1-5). 6) Wanneer dit jou huwelik onder finansiële druk plaas. Die finansiële kundige, Larry Burkett, het gesê dat skuld die motiverende faktor in amper 80 persent van alle skeisake is. Dit beteken egter nie dat jy nie familieprobleme sal hê as jy ryk is nie. Dit beteken eenvoudig dat wanneer jy geld eerste en jou familie tweede stel, dit jou niks meer as ‘n ryk mislukking kan maak nie. Voor jy dus geld leen, bid en vra God vir wysheid.
Sielskos: Gen 7-9; Luk 7:36-50; Ps 111; Spr 3:29-30