Volharding
2020-07-18Hebreërs 12:2 NLV
Jakobus skryf: ‘Gelukkig is die mens wat in beproewings volhard! As die toets sy geloof as eg bewys, sal hy die lewe as oorwinningskroon ontvang…’ (Jakobus 1:12 NLV). Dink jy daaraan om tou op te gooi? As jy egter jou huwelik, jou loopbaan of jou droom laat vaar, mag jy dalk vir die res van jou lewe daaroor spyt wees. God kan jou versterk en jou ‘n wenner maak, maar slegs wanneer jy op die pad bly. F.B. Meyer het gesê: ‘Jy kan nie die hulpbronne van God toets, as jy nooit die onmoontlike aanpak nie.’ Om tou op te gooi bou nie karakter nie, maar volharding doen. Dit ontwikkel iets in jou wat niks anders kan nie; dis hoekom God dit as iets goeds sien (sien Jakobus 5:11 NLV). Dit ontwikkel moed en dissipline en verander drome in realiteit. Niemand het meer as Jesus van volharding geweet nie. Hy het al die pad tot by Golgota volhard; waar hulle die hare uit sy gesig gepluk het, waar hulle sy vlees met ‘n sweep verskeur het, waar hulle Hom aan die kruis vasgespyker het, waar sy vriende Hom verlaat het, waar omstanders Hom gespot het, waar God sy gesig weggedraai het en waar die hel opgedoem het en geroep het: ‘Gee op!’ Die Bybel sê: ‘…Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur…’ God beloon diegene wat Hom daadwerklik soek (sien Hebreërs 11:6). Hy beloof dat jy Hom sal vind as jy Hom met jou hele hart soek (sien Jeremia 29:13). Hierdie belofte is op jou van toepassing. Sê dus vir God: ‘Ek is van plan om aan te hou en U te vertrou vir die krag om ‘n deurbraak te maak.’ Wanneer jy so bid, sal jy vind dat dit nie so maklik is om tou op te gooi nie.
Sielskos: Hand 6-7; Luk 8:16-25; Ps 140; Spr 16:3