Voel God aan en sien Hom
2024-01-181 Korintiërs 2:10 NLV
Die Bybel sê: ‘…Wat geen oog gesien het; wat geen oor gehoor het; wat in niemand se hart opgekom het nie – dit het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet. Maar ons ken hierdie geheim omdat God dit deur sy Gees aan ons bekendgemaak het…’ (verse 9-10 NLV). Die Heilige Gees vergoed vir ons sintuiglike beperkings deur ons in staat te stel om dinge wat ons nie met ons vyf sintuie kan waarneem nie, bewus van kan word. Dink aan Hom as ‘n sesde sintuig. Hierdie sintuig moet ontwikkel en fyn ingestel word. Die enigste manier om dit te doen is deur tyd te bestee om op die Skrif te mediteer en met God in gebed deur te bring.
Totdat ons deur die Heilige Gees wakker gemaak word, is ons onbewus van ons behoefte aan God, van die geestelike oorlog wat rondom ons plaasvind en dit wat God rondom ons doen. Een nag het Jakob ‘n droom gehad waarin God verskyn en vir hom gesê het: ‘Ek sal by jou wees en jou beskerm waar jy ook al gaan…’ (Genesis 28:15 NLV). Toe hy die volgende oggend wakker word, het Jakob gesê: ‘…Sowaar! Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie geweet nie!.. Dis niks anders nie as die woning van God, die poort na die hemel!’ (verse 16-17 NLV).
Jakob het aan die slaap geraak en op dieselfde plek wakker geword, maar hy het as ‘n ander mens wakker geword. Jakob het daarna vir God in alles gesien. Vra vandag vir God vir ‘n geestelike openbaring. Bid die volgende: ‘Here, wys my wat U wil hê ek moet sien, leer my wat U wil hê ek moet weet, lei my stap-vir-stap op die pad van u perfekte wil.’ Dis ‘n gebed wat God sal antwoord!
Sielskos: Dan 1-2; Matt 6:19-34; Ps 81; Spr 2:11-15