Voed jou geloof daagliks
2022-10-19Romeine 12:3 NLV
Dis maklik om aan negatiewe gedagtes en vrese oor hoe dinge gaan uitdraai toe te gee. Soos Jesus uitgewys het, lewe ons in ‘n ‘ongelowige en ontaarde’ wêreld (Matteus 17:17 NLV). Dit beteken dat jy voortdurend teen die pessimistiese houding wat deur die kultuur, die media, die onderwysstelsel, die werkplek – en soms jou eie vriende – uitgebeeld word, moet veg. Dis hoekom jy jou geloof daagliks op God se Woord moet voed. Jesus het gesê: ‘…Dít verseker Ek julle, as julle geloof selfs so klein soos ‘n mosterdsaadjie was, sou julle vir hierdie berg sê: ‘Skuif soontoe,’ en hy sal dit doen…’ (Matteus 17:20 NLV).
Let op dat Jesus nie na ‘n berg verwys wat jy jare gelede teëgekom het nie. Hy verwys na ‘hierdie berg.’ Hy wil hê dat jy vandag jou geloof moet uitoefen! Hy het gesê: ‘…as julle geloof selfs so klein soos ‘n mosterdsaadjie was…[sal] niks vir julle onmoontlik wees nie’ (vers 20 NLV). ‘n Mosterdsaadjie is so klein dat dit tussen jou tande kan vassit. Jesus het egter gesê dat alhoewel dit ‘die kleinste van alle saadsoorte’ is, dit ‘n groot boom word waarin die voëls in sy takke kan kom nesmaak (sien Matteus 13:32 NLV).
Jy sê: ‘Ek het nie geloof nie.’ Ja, jy het. Paulus het gesê dat elkeen van ons ‘die geestelike toerusting wat God aan jou toebedeel het,’ het. Wanneer hierdie geloof geaktiveer word, gebeur wonderwerke. Selfs al het jy net ‘n gram geloof oor, het jy dit wat jy nodig het om te seëvier. Geloof werk egter net wanneer dit die taal wat jy praat en die houding wat jy handhaaf, word. Die Vyand wil nie hê dat jy dit moet weet nie, want dan sal jy nie net dink aan dit wat plaasvind nie, maar begin dink aan dit wat moontlik is!
Sielskos: 2 Sam 7:18-11:27; Joh 4:27-38; Ps 32; Spr 23:29-35