Vind selfwaarde

2024-04-19
Matteus 6:33 NLV

Wanneer jy God se Woord lees, ontdek jy hoe Hy oor jou voel. Gevolglik begin jou herinneringe genees, jou selfwaarde word herstel en jy hou op om met ‘n minderwaardige selfbeeld handel te dryf. Wanneer dit gebeur, glo jy nie meer dat enigiemand anders se geselskap bo jou eie verkiesliker is nie. In ‘n opname van vermeende gelukkige paartjies, het meer as 50 persent gesê dat hulle nie weer met dieselfde persoon sal trou nie. Hoekom nie? Omdat die antwoord op eensaamheid nie mense is nie, maar doelgerigtheid!

Die apostel Johannes was ‘n gevangene op die eiland Patmos toe God vir hom die heerlikheid van die hemel gewys en hy die boek Openbaring geskryf het. Paulus was alleen in ‘n Romeinse kerker toe hy die helfte van die Nuwe Testament geskryf het. God het sommige van sy beste werk gedoen toe Hy alleen was met niemand wat Hom kon loof nie, dus het Hy Homself geprys en gesê: ‘…dit was goed in elke opsig…’ (Genesis 1:31 NLV). Kan jy dit doen?

Dis lekker wanneer ander mense mooi dinge van jou sê, maar wanneer jy mooi van jouself kan praat, reflekteer dit jou opinie van jouself – en dis die opinie waarmee jy elke dag moet saamleef. Iewers anderkant eensaamheid is daar ‘n tevredenheid wat uit nood gebore word. Werk dus daaraan om jou verhouding met God te verdiep. Wanneer jy dit doen, sal jy vreugde vind en ook kwaliteite wat jou vir die regte mense aantreklik maak, ontwikkel. Dis hoekom Jesus gesê het dat wanneer ons: ‘…die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit [maak]; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ – insluitend selfwaarde.

Sielskos: Hand 6-7; Mark 3:20-27; Ps 75; Spr 10:22-23