Vind jou plek in Christus se liggaam (2)
2020-09-151 Korintiërs 12:18 NLV
Voel jy asof jy by ‘n ander kerk moet aansluit waar mense meer soos jy is? ‘n Span sendelinge is deur ‘n lid van die Masai stam in Kenia na hulle bestemming begelei. Op pad na hulle bestemming is hulle aandag getrek deur ‘n trop wildebeeste en sebras wat saam migreer het. Hulle gids het verduidelik hoekom twee enorme troppe van verskillende spesies saam sou reis. Hy het verduidelik dat die wildebeeste slegte sig, maar ‘n uitstekende reuksintuig gehad het, terwyl die sebras goed kon sien, maar nie so goed kon ruik nie. Saam was hulle dus minder weerloos omdat hulle verskille vir hulle swakhede opgemaak het. Paulus skryf: ‘Veronderstel ‘n mens se hele liggaam sou uit ‘n oog bestaan – hoe sal jy dan hoor? Of as jou hele liggaam net een groot oor sou wees – hoe sou jy enigiets kon ruik?’ (vers 17 NLV). Dit laat jou nogal aan die sebras en wildebeeste dink, nie waar nie? Wanneer ons by ‘n klub aansluit, kies ons gewoonlik om saam met mense te wees wat min of meer soos ons is. Lidmaatskap aan Christus se liggaam gooi ons egter saam met mense wat so verskillend van ons is soos ‘n neus van ‘n oor. Daardie verskille kan jou soms irriteer, maar dit is verskille wat God daargestel het om tot voordeel vir jou te wees. Sebras en wildebeeste hoef nie van mekaar te hou nie, maar hulle oorlewing en sukses hang van hulle vermoë om oor die weg te kom, af. Jou geestelike groei hang nie daarvan af om met almal oor die weg te kom nie, maar dit hang wel daarvan af om hulle genoeg lief te hê om op ‘n aangename manier saam met hulle te kan lewe!
Sielskos: Eseg 37:1-40:9; Luk 22:14-23; Ps 78:65-72; Spr 20:26-30