Vind jou plek in Christus se liggaam (1)
2020-09-141 Korintiërs 12:25 NLV
Wanneer jy ‘n kerk waarin jy tuis voel moet kry, is die opsies legio. Tradisioneel, kontemporêr – daar is ‘n wye verskeidenheid om van te kies. Jou plek in die liggaam van Christus is egter ‘n ander saak; dit word nie deur jou bepaal nie, maar deur God. Die Bybel sê: ‘…Maar ons is almal deur die een Gees gedoop in Christus se liggaam…’ (vers 13 NLV). Wanneer jy Jesus as jou Redder aanvaar, word jy lid van sy verloste familie en vind daar “‘n wonderwerk van plasing” binne-in jou plaas. Dit is nie ‘n keuse wat jy maak nie; dis God se keuse – en dit bepaal jou geestelike identiteit. Paulus sê: ‘Toe ons gedoop is, het die Heilige Gees vir ons almal saam een liggaam gemaak. Ons is Jode, Grieke, slawe en vry mense, maar dieselfde Gees het in ons almal gekom’ (vers 13 ABA). Dit beteken dat enigiemand, op enige plek in die wêreld wat Jesus as sy Redder en Here aangeneem het, aan jou verbind is – in ‘n groter mate as wat jou eie hand aan jou gewrig verbind is. Jy het ‘n rol in verhouding met elkeen van hulle wat jy moet vertolk. God het jou nie net in sy liggaam geplaas nie, Hy het ook jou unieke rol bepaal toe Hy: ‘…dit so beskik [het] dat daar verskillende lede sal wees en dat elkeen van hulle sy eie plek in die liggaam sal hê, soos Hy dit goedvind’ (vers 18 NLV). Hy het ook vir jou sekere gawes gegee en verwag van jou om dit te gebruik om sy doelwitte te vervul (sien Romeine 12:6-8). Wanneer jy God vra om jou gawes vir jou te wys, sal Hy dit doen. Wanneer Hy dit doen, moet jy elke geleentheid gebruik om dit tot sy verheerliking aan te wend.
Sielskos: Eseg 34-36; Luk 22:1-13; Ps 78:56-64; Spr 20:25