Vervulde profesieë
2023-07-28Jesaja 46:10 NLV
Hoe kan jy seker wees dat die Bybel goddelik geïnspireer is en dus jou vertroue waardig is? Deur vervulde profesieë! Geen ander godsdiens het spesifieke, herhaalde en onfeilbare vervulling van voorspellings wat baie jare vooruit gemaak is, van gebeure waaroor die voorspeller geen beheer gehad het nie. God het hierdie bewyse vir ons voorsien sodat ons kan weet dat die Skrif ‘n goddelike skrywer het: ‘…Ek is God… Ek maak die einde bekend vanaf die begin. Uit die verlede, dit wat nog moet gebeur…’ (verse 9-10 NLV).
Die Bybel se ses-en-sestig boeke, wat tussen 1400 vC en 90 nC geskryf is, bevat ongeveer 3,856 verse wat op profesieë betrekking het. Hier is egter die beste deel daarvan: Meer as 25 persent van die hele Bybel bevat spesifieke profesieë wat reeds letterlik vervul is! Sir Isaac Newton het gesê: ‘Ek vind meer sekere tekens van egtheid in die Bybel as in hoegenaamd enige ander goddelose geskiedenis.’
Jy vra: ‘Hoekom is daar dan mense wat nie in die Bybel glo nie?’ Omdat hulle nog nie hulle harte vir God oopgemaak het nie! Paulus skryf: ‘…niemand [kan] God se diepste geheime ken nie, behalwe die Gees van God. Ons het die Gees ontvang wat van God uitgaan – nie dié van die wêreld nie – sodat ons kan besef watter wonderlike geskenke God aan ons gegee het. As ons hierdie dinge aan julle vertel, gebruik ons nie woorde wat hulle oorsprong het in menslike slimmigheid nie… Ons gebruik woorde wat van die Gees kom om geestelike waarhede te verduidelik. Mense wat nog in materiële terme dink, kan nie hierdie waarhede toe-eien wat van die Gees van God kom nie. Dit klink vir hulle onsinnig. Hulle kan dit nie verstaan nie, want hierdie dinge moet vanuit ‘n geestelike perspektief verstaan word’ (1 Korintiërs 2:11-14 NLV).
Sielskos: Hand 22-23; Matt 28:11-20; Ps 46; Spr 16:20-22