Vertrou God en neem ‘n tree in geloof (1)

2018-10-18
Matteus 25:21 ABA

Nicole Unice, die direkteur van die vrouebediening by Hope Church, sê: ‘Daar is idees wat ek weet voordelig sal wees en tog huiwer ek om te veel te deel of te groot te droom. Wat as dit nie werk nie? Of mense nie daarvan hou nie? Wat as die mense bo my wonder of hulle die regte besluit geneem het om my aan te stel? Een dag het ek op my kantoormuur geskryf: Wat daarvan as dit misluk? Wat begeer jy om te probeer, maar het dit nog nie gedoen nie omdat jy bang is dat jy sal misluk? Watter tegnologie vermy jy? Watter nuwe kennis ignoreer jy omdat jy oud en geroes voel? As jy nie iets op die horison het waarin jy dalk kan misluk nie, is jy besig om as leier te misluk. Tensy jy op innovasie en kreatiwiteit aandring, sal jy aanhou om dieselfde soort mense aan te trek. Wanneer jy met God se werk begin, sal jy grense moet verskuif en dinge moet probeer wat dalk sal misluk.’ John Mason skryf: ‘Moenie bang wees om te misluk nie. As jy nie misluk nie, groei jy nie. Wanneer suksesvolle mense ophou groei en leer, is dit omdat hulle nie meer bereid is om die gevaar van mislukking te loop nie. Ons almal maak foute – veral diegene van ons wat dinge doen. Soos Paulus sê, ‘Aan God kom ons dank toe – Hy wat aan ons die oorwinning… gee deur Jesus Christus ons Here!’ (1 Korintiërs 15:57 NLV). Mislukking is dikwels die eerste stap na sukses. Tensy jy bereid is om ‘n risiko te neem, sal jy nie die kans kry om sukses te behaal nie.’ Vertrou vandag op God en neem ‘n tree in geloof!

Sielskos: Eks 30-32; Joh 4:13-26; Ps 100; Spr 26:27-28