Versoeking (1)
2021-01-191 Korintiërs 10:13 NLV
Is daar ‘n sekere versoeking wat jy aanhoudend voor te staan kom en waarvoor jy om elke hoek en draai swig? God het ‘n manier om jou versoeking in oorwinning te verander. Satan word ‘die versoeker’ genoem en hy weet presies voor watter versoekings jy die maklikste swig.
Paulus skryf egter: ‘Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook…’ Jesus moes self: ‘…presies dieselfde versoekings as ons trotseer – behalwe dat Hy nie voor die sonde geswig het nie’ (Hebreërs 4:15 NLV). Die rede daarvoor? ‘Omdat Hy self versoekings verduur het, kan Hy dié help wat onder versoeking swaarkry’ (Hebreërs 2:18 NLV).
Baie jong Christene dink dat wanneer hulle gered word, hulle nie meer versoekings sal ervaar nie. Nee, wanneer jy gered is, sal jy meer versoekings ervaar as toe jy nog verlore was. Versoeking neem nooit ‘n vakansie nie. Wanneer jy op vakansie gaan, gaan dit saam met jou. Dit sal jou tref wanneer jy die sterkste voel en jou neerfel en skop wanneer jy op jou swakste is. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Daarom – as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ‘n val kom nie’ (1 Korintiërs 10:12 NLV).
Wat is die antwoord? ‘…God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word’ (vers 13 NLV). Let twee dinge op: Eerstens, sal jy versoek word. Tweedens, sal jy nooit voor ‘n versoeking te staan kom wat jy nie die hoof kan bied nie, want God is getrou. Hy beantwoord gebede. Veral die gebed wat Jesus vir ons gesê het om te bid: ‘Help ons om nooit te swig voor versoekings nie, en pas ons op wanneer die duiwel ons wil verlei om verkeerde dinge te doen’ (Matteus 6:13 DB).
Sielskos: Jes 1-3; Matt 8:18-27; Ps 89:1-14; Spr 2:20