‘U, o Koning, is die waardigste’
2020-05-26Filippense 2:10 NLV
Gedurende een van die kruistogte het Philippe Auguste, koning van Frankryk, al sy edele ridders bymekaar geroep en hulle aangemoedig om sterk tydens die geveg te staan. Hy het sy koninklike kroon, wat met die inskripsie: ‘Aan die waardigste,’ gegraveer was, op die tafel gesit en dit as prys aan die braafste vegter beloof. Nadat sy weermag die stryd gewen het, het hulle die tafel waarop die kroon gesit is, omring. Toe het een van die ridders vorentoe getree, die kroon opgelig en dit op die koning se kop geplaas deur te sê: ‘U, o Koning, is die waardigste.’ Die Bybel sê: ‘So sal by die noem van Jesus se heerlike Naam elke knie in die hemel en op die aarde en onder die aarde buig, en elke tong sal erken: ‘Jesus Christus is Here!’…’ (verse 10-11 NLV). Let op die woorde: ‘elke knie sal buig.’ Die bevolkingsverwysingsburo het in 2011 geskat dat daar sedert die begin van die mensdom ongeveer 106 biljoen mense gebore is. Raai wat? Elke liewe een van hulle sal voor die Naam van Jesus kniel. Kan jy jou net indink hoe al daardie mense – meer as tien keer die wêreld se huidige bevolking – voor Christus sal kniel en sê: ‘U, o Koning, is die waardigste.’ In daardie oomblik sal Christus sy plek inneem, ‘…hoog verhewe bo alle magte en kragte wat daar in die hemel en op die aarde is… nie net… in hierdie wêreld nie, maar ook in die wêreld wat kom’ (Efesiërs 1:21 NLV). Dan sal Hy, die skrywer en voleinder van dit alles, die boek op hierdie lewe toemaak en die boek op die volgende een oopmaak. Dis net die begin van die nimmereindigende storie waarna ons, die verlostes van die Here, wag en waarna ons smag.
Sielskos: 1 Kon 3-5; Mark 11:27-33; Ps 128; Spr 12:10-11