Twee gebedsbeginsels
2024-09-07Matteus 6:7 NLV
Jesus is ons grootste voorbeeld wanneer dit kom by die belangrikheid om ‘n konsekwente gebedslewe te hê. Voordat Hy die storm by Galilea gekalmeer het, sy twaalf dissipels geroep het, of die skare met vyf broodjies en twee vissies gevoed het, het Hy tyd alleen in gebed deurgebring. Jy is geroep om in sy voetspore te volg (sien 1 Petrus 2:21). In wese is ons mislukkings dikwels die resultaat van ons versuim om te bid. Jesus het vir sy dissipels twee gebedsbeginsels gegee wat ook vir jou sal werk.
Eerstens het Hy gesê: ‘Wanneer jy bid, gaan na die stilste vertrek in die huis en maak die deur agter jou toe sodat jy daar in jou alleenheid tot jou Vader kan bid…’ (Matteus 6:6 NLV). Met ander woorde, kry ‘n stil plek waar jou aandag nie afgelei sal word nie. Jy ontmoet immers vir God. Soos jy tyd daar bestee, sal jy groei om daardie plek lief te kry en sal dit jou ‘skuilplek’ (sien Psalm 91:1), word.
Tweedens het Jesus gesê: ‘Wanneer julle dan bid, moenie met woorde mors soos die heidene nie. Hulle dink ‘n stortvloed woorde sal maak dat hulle gebede beantwoord word. Moenie soos hulle maak nie, want julle Vader weet presies wat julle behoeftes is, selfs nog voordat julle Hom vra!’ (Matteus 6:7-8 NLV). Nadat die gemeente heelnag gebid het dat Petrus uit die tronk vrygelaat moet word, sê die Bybel hulle was ‘baie verbaas’ toe God dit laat gebeur het (sien Handelinge 12:16 NLV). Jy sê: ‘Dis erg.’ Dis eintlik goed! Dit beteken dat selfs wanneer jou geloof swak is, sal God jou antwoord wanneer jy bid. Hou dus aan bid en staan op sy Woord.
Sielskos: Jos 16:1-19:23; Luk 20:9-19; Ps 20; Spr 23:10-12