Toegewyd en verbonde
2023-02-09Romeine 12:5 NLV
Die Bybel beskryf die Christelike lewe in oorlogsterme: veg, oorwinning, strydperk, oorlog, triomfeer, sege. Jy is in ‘n geestelike stryd betrokke, of jy dit nou besef of nie en jy het ondersteuning en hulp nodig. Wanneer jy ‘n Christen word, word jy deel van God se weermag.
Stel jou voor jy gaan na ‘n werwingskantoor om by die weermag aan te sluit. Hulle sê: ‘Wonderlik, teken hier.’ Jy sê: ‘Wag! Ek het een voorwaarde. Ek wil nie aan enige spesifieke peloton toegewys word nie. Ek wil kan kom en gaan soos ek wil. Ek sal deel van die weermag wees, maar ek wil nie aan ‘n sekere groep soldate toegewyd wees nie. As die stryd te warm word in een gebied, sal ek na ‘n ander gebied beweeg en by ‘n ander peloton aansluit. En as ek nie van een peloton se leierskap hou nie, sal ek by ‘n ander een aansluit.’ Sal jy wil hê dat so ‘n persoon langs jou in die geveg moet staan? Natuurlik nie!
Dis egter hoe baie Christene deesdae God se weermag benader. Hulle spring van kerk tot kerk met min of geen toewyding aan enige spesifieke groep Christene – so terwyl die stryd geveg word, is hulle nêrens te sien nie. Die verskil tussen slegs kerk bywoon en ‘n lidmaat word, is soos die verskil om te trou of net saam te bly. Die verskil is toewyding.
Die Griekse woord vir gemeenskap is koinonia, wat beteken om aan mekaar toegewyd te wees. Jesus het gesê: ‘As julle liefde teenoor mekaar beoefen, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is’ (Johannes 13:35 NLV). Jy kan nie liefde betoon wanneer jy afwesig is nie. Wees dus toegewyd en verbonde.
Sielskos: Gen 37-39; Luk 9:1-17; Ps 134; Spr 4:5-13