Ten spyte van omstandighede, is God by jou

2019-08-08
Hebreërs 13:5 NLV

Vyf keer in een hoofstuk, Genesis 39, sê die Bybel: ‘Die Here was met Josef.’ Dit het hom egter nie van jaloesie of verraad, of Potifar se vrou, of haar leuens wat hom tronk toe gestuur het, gevrywaar nie. Die Bybel sê: ‘Sy voete het hulle in boeie gedwing, en sy nek in ‘n ysterhalsband gesit tot sy woorde waar geword het, en die Here se woorde bevestig is’ (Psalm 105:18-19 NLV). Josef het dit nie geweet nie, maar hy was besig om opgelei te word om te regeer. God wou sien of hy vertroue oor begeerte sou kies en gehoorsaamheid oor gerief sou kies. Dis wanneer jy terugkyk wat jy besef hoekom een van God se name ‘Verlosser’ is. Hy kan alles waardeur jy is verlos – die goeie, die slegte en die lelike. Die les wat Josef geleer het is as volg: God is by jou, selfs wanneer daar geen bewys is dat Hy daar is nie. Hy stap langs jou. Hy werk saam met jou. Hy gaan vooruit om situasies in jou guns te herrangskik. Sy Woord sê: ‘…Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.’ Ons kan dus met vrymoedigheid sê: ‘…Die Here is my hulp. Daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan nietige mensies my aandoen?’ (Hebreërs 13:5-6 NLV). Dinge word egter in God se plan soms erger voordat dit beter word. Dis wanneer jy jou greep moet versterk en harder op God moet leun: ‘Moenie hierdie vertroue in God deur julle vingers laat glip nie. Dit hou vir julle groot beloning in. Wat julle nodig het, is om te volhard sodat julle kan voortgaan om God se wil te gehoorsaam. Dan sal julle ontvang wat God beloof het’ (Hebreërs 10:35-36 NLV).

Sielskos: Rut 1-4; Matt 15:15-28; Ps 119:41-48; Spr 17:17