Is jy ‘n onreg aangedoen? Vergewe!

2026-03-13
Kolossense 3:13 NLV

Wanneer jy die lewens van diegene wat deur God in die Bybel gebruik is bestudeer, sien jy dat hulle nie van seer, teleurstelling of selfs verraad gespaar is nie. Die waarheid is dat as jy lank genoeg leef, iemand jou ‘n onreg sal aandoen. Die vraag is – hoe gaan jy reageer? Die apostel Paulus vertel ons hoe ons moet reageer: ‘Verdra mekaar en as enigeen ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het.’

Daar is ‘n verhaal van twee vriende wat deur die woestyn geloop het toe hulle in ‘n argument betrokke raak. Een vriend het die ander in die gesig geslaan. Die een wat geslaan is, was seergemaak. Sonder om ‘n woord te sê, het hy in die sand geskryf: ‘Vandag het my beste vriend my in die gesig geslaan.’ Hulle het aangehou loop totdat hulle ‘n oase gekry het. Omdat hulle dors was, het hulle gestop vir water. Die een wat geslaan is, het in die modder vasgesit, ingeval en amper verdrink. Sy vriend het toe sy hand uitgesteek en hom gered. Daardie nag het hy die volgende woorde op ‘n groot klip uitgebeitel: ‘Vandag het my beste vriend my lewe gered.’

Die vriend wat hom eers geklap en toe gered het, het gevra: ‘Nadat ek jou seergemaak het, het jy in die sand geskryf. Nou skryf jy egter op die klip. Hoekom?’ Hy het geantwoord: ‘Wanneer iemand ons seermaak, moet ons dit in die sand skryf, waar die winde van vergifnis kan waai en dit uitvee. Wanneer iemand egter iets goeds vir ons doen, moet ons dit in klip uitbeitel waar dit vir ewig onthou sal word.’ Barmhartigheid vergeet die verkeerde dinge en onthou die regte dinge!

Sielskos: 2 Kon 24-25; Luk 16:19-31; Ps 24; Spr 7:24-25

Vergewe hulle en wis dit dan uit

2025-05-15
Lukas 23:34 NLV

Sommige gemeenskappe in die geskiedenis het diegene wat egbreuk gepleeg het, gestraf deur hulle ‘n groot bloedrooi letter A te laat dra wat hulle in die openbaar as egbrekers geïdentifiseer het. As jy betrap is dat jy gesteel het, het hulle jou ‘n bal en ketting laat rondsleep. Miskien dink jy: ‘Wel, hulle het dit verdien.’ Regtig?

Jesus het gesê as jy bloot wellustig na iemand kyk, het jy reeds in jou hart egbreuk gepleeg (sien Matteus 5:28). Hy het ook verder gesê dat die manier waarop jy ander mense oordeel, dieselfde manier is waarvolgens jy geoordeel sal word (sien Matteus 7:1-2). Let twee dinge op: 1) God sal nie jou sonde net oorsien nie. ‘Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is…’ (Hebreërs 12:6 NLV). 2) Hy sal nie sy rug op jou draai nie. Niks kan ons van God se liefde skei nie (sien Romeine 8:38-39).

Wanneer iemand jou dus seermaak, sê God dat ons hulle moet vergewe en dit dan moet uitwis! Indien ons dit nie doen nie, sal dit aanhou om die manier wat ons dink, optree en praat, te beïnvloed. Dit sal ons ook aan ou, pynlike herinneringe vasgebind hou. Om iemand te vergewe begin deur vir hulle te bid. Jy sê: ‘Maar ek het nodig om te verstaan hoekom hulle dit gedoen het.’ Wyse mense doen dwase dinge, goeie mense doen slegte dinge en misleide mense weet nie wat hulle doen nie. Jesus het vir die mense wat Hom gekruisig het, gebid: ‘Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!’ Eendag mag jy dalk dit wat jou oortreder gemotiveer het, verstaan. Selfs al verstaan jy dit egter nie, moet jy hulle vergewe en dit uitwis.

Sielskos: 1 Kon 1-2; Mark 7:14-23; Ps 88:9b-18; Spr 11:27-29

Hoe om te vergewe

2025-03-27
Efesiërs 4:32 NLV

In 1982 het John Hinckley Jnr die lewe van president Ronald Reagan probeer neem deur hom met ‘n geweer te skiet. Reagan se dogter, Patti, het later vertel wat sy by haar pa geleer het terwyl hy in die hospitaal was: ‘My pa het gesê hy weet dat sy fisiese genesing direk afhanklik is van sy vermoë om John Hinckley te vergewe. Dit het my gewys dat vergifnis die sleutel tot alles is. Hy het my ‘n voorbeeld van hoe om soos Christus te dink, gegee.’

Soms is die wonde wat ander ons toedien onbedoeld en ander kere is dit doelbewus. In beide gevalle gee die Skrif ons egter ‘n duidelike standaard oor hoe ons moet reageer. Jy moet diegene wat jou seermaak vergewe, ‘soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het.’ Dis ‘n hoë standaard, maar dis een wat genesing vir ons diepste wonde bring.

Soms deel ons vergifnis soos ‘n outomaat uit – meganies en sonder enige gevoelens. Die Bybel sê egter dat twee dinge met ons vergifnis moet gepaardgaan: vriendelikheid, wat deur ons aksies uitgedruk word en omgee, wat deur ons houding uitgedruk word. Hoekom? Omdat dit die manier is hoe God ons vergewe. Deur die Skrif vind ons dat emosies soos vriendelikheid, sagmoedigheid, medelye en deernis – in woorde of deur aksie – aan God toegeskryf word. Ons vind ook voorbeelde daarvan in die lewe van die mense wat God gebruik om sy planne en doelwitte te vervul. Josef was een van hulle, toe hy sy broers wat hom verraai het vergewe het. God roep ons om dieselfde te doen. Hierdie tipe vergifnis is net soveel ‘n daad van die hart as wat dit ‘n daad van die wil is.

Sielskos: 2 Tess 1-3; Luk 20:9-19; Ps 18:30-50; Spr 8:32-33

Vergifnis kom eerste, gevoelens later

2024-11-10
Psalm 37:8 NLV

Klein oortredings kan maklik vergewe word. Wanneer iemand ons egter baie seermaak en lyk of hulle daarmee wegkom, kan vergifnis ‘n groot uitdaging wees. Totdat jy die oortreding vergewe en dit laat gaan het, sal jy voortdurend voel hoe die gewig daarvan jou afdruk. Een van die grootste foute wat jy kan maak as dit by vergifnis kom, is om te dink dat wanneer jou gevoelens teenoor iemand nie dadelik verander nie, jy hulle nog nie regtig vergewe het nie. Nee, vergifnis is ‘n besluit. Dis ‘n daad van jou wil. Jy mag dalk steeds met gevoelens van seer en gegriefdheid sukkel. Dit maak nie jou besluit om te vergewe ongeldig nie; dit beteken slegs dat genesing tyd neem. Jou genesing begin die oomblik wat jy besluit om te vergewe.

Die Bybel sê: ‘Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid… Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (Efesiërs 4:31-32 NLV). Wanneer jy jou deel, om te vergewe, gedoen het moet jy God vertrou om sy deel, om jou emosies te genees en jou vrede en vreugde te herstel, te doen. Jy het die mag om die besluit om te vergewe te maak, maar net God het die mag om jou gevoelens teenoor die persoon wat jou seergemaak het, te verander. Vertrou dus op God om jou hart te verander. Jou gevoelens sal uiteindelik volg en in lyn met jou besluit kom.

Intussen: ‘Wees stil in die Here, en wag geduldig op Hom. Moenie die mens beny wat op sý manier floreer, of jou verknies oor sy bose planne nie. Moenie kwaad word nie; laat staan eerder jou woede. Moenie ander beny nie; dit lei net tot jou nadeel’ (Psalm 37:7-8 NLV).

Sielskos: Job 1; Job 2:7-10; Job 40:1-5; Job 42:7-17

God se goedheid lei tot goddelikheid

2024-08-05
Romeine 2:4 NLV

Onthou jy die vrou wat ‘n albaste fles met aromatiese olies geneem en Jesus daarmee gesalf het? Die Bybel sê: “Toe die Fariseër wat die gasheer was, sien wat gebeur en wie die vrou is, het hy vir homself gesê: ‘Dit bewys dat Jesus geen profeet is nie. As God hom werklik gestuur het, sou hy geweet het watter soort vrou hom aanraak. Sy is ‘n sondaar!'” (Lukas 7:39 NLV). Mensgemaakte godsdiens het hierdie vrou oor haar verlede veroordeel, maar Jesus het haar gereinig en weer heel gemaak. ‘Ek sê vir jou, haar sondes – en dit is baie – is vergewe, en daarom bewys sy My baie liefde. Maar iemand vir wie min sondes vergewe is, betoon maar min liefde!’ (vers 47 NLV). Jesus het geweet wat hierdie vrou gedoen het, maar Hy het ook geweet wat sy kan word wanneer sy genade haar lewe aanraak.

Hoe meer jy besef hoeveel jy vergewe is – letterlik al jou sondes – hoe liewer sal jy die Here hê. God se vergifnis lei nie tot ‘n sondige leefstyl nie, dit lei tot ‘n lewe wat die Here Jesus verheerlik. ‘…Besef jy nie dat God so goed is vir jou omdat Hy vir jou tyd wil gee om tot inkeer te kom nie?’ Die woord ‘inkeer’ beteken om om te draai en die teenoorgestelde te doen. Veroordeling bring nie ‘n regverdige lewe voort nie, maar die kennis van God se genade en goedheid teenoor ons wel.

Simon die Fariseër het gedink dat sy aanvaarding deur God op sy prestasie gebaseer was; daarom het hy eiegeregtig geword. Wanneer jy besef hoe baie en hoe gereeld God jou vergewe het, sal jy nog liewer word vir God en die begeerte ontvang om Hom in alles wat jy doen, te behaag.

Sielskos: 1 Joh 3:11-5:21; Luk 11:1-13; Ps 78:40-55; Spr 20:4-6